Reach for a Dream betrek by Mnr en Mej Expo
THABAZIMBI- Die jaarlikse Mnr en Mej Thabazimbi Expo kompetisie was weereens ‘n groot sukses met ‘n totaal van 100 inskrywings wat vanoor die land ontvang is. Die organisering van die kompetisie is behartig deur Peter de Beer van Studio III Model Academy in samewerking met Tanya Veldman van Thabazimbi se Wild en Toerisme Expo. Hierdie jaar was daar egter ‘n verskil aangesien die liefdadigheidsorganisasie Reach for a Dream deel gevorm het van die kompetisie. ‘n Bedrag van R40 van elke inskrywing is oorbetaal aan die organisasie en in ruil kon die top 5 wenners van die verskillende ouderdomsgroepe deurgaan na die finale van die Mnr en Mej Reach for a Dream kompetisie. Die meisies het almal pragtig gelyk in hul aanddrag en so het die manne ook ‘n paar van ons aangenaam verras met hoe ‘n mansmodel kan lyk. Die kompetisie het baie goed afgeloop en die beoordelaars het nie ‘n maklike taak gehad om die mooiste van die mooistes te kies nie. Neil Sandilands, wat die seremoniemeester by die geleentheid was, het hom ook goed van sy taak gekwyt en dit terdeë geniet om met al die klein dametjies ‘n geselsie aan te knoop. Die oudste twee ouderdomsgroepe van die meisies, Mej Teen Expo en Mej Expo was ‘n naelbyt stryd, aangesien die wenners en elk van hierdie ouderdomsgroepe die geleentheid gebied is om deur te gaan na die finale onderhoude van Mej SA Teen en Mej SA onderskeidelik. Karina Botha en Gale Dougty was die wenners en die gemeenskap van Thabazimbi hou vir hierdie twee styf duim vas, wie weet miskien kom die volgende skoonheidskoningin tog uit ons area.