Leeupoort kunsuitstalling om die draai
LEEUPOORT – Die Leeupoort kunsuitstalling is om die draai en gaan spog met ‘n groot verskeidenheid kuns. Die meerderheid van hierdie talenvolle kunstenaars is inwoners van die Leeupoort gemeenskap en gaan talle kunsliefhebbers gaande hê. Van die kunsuitstallers wat gaan uitstal is:
Lute Vink – hy en sy gesin is permanente inwoners van Leeupoort. Lute het sy talent van sy vader geërf en skets sedert sy vroeë kinderjare. Vanaf 1990 skilder Lute wildstonele, waarvoor hy ‘n passie ontwikkel het. Dit word duidelik in sy werke weergegee. Daar is ‘n groot aanvraag na sy skilderye. Sasol, privaat versamelaars, die VSA en selfs regoor die wêreld koop mense en instansies sy meesterstukke. Dit word gereeld in kunsgallerye ten toon gestel.
Lienkie Lombard is nog ‘n befaamde skilder van Leeupoort. Lienkie en haar man Nico, geniet die stilte van die Bosveld en sy wil graag met haar skilderye ontvlugting bied van die gejaagde lewe. Sy kry dit uitstekend reg, want haar skilderye is ‘n belewenis van ‘n ander mooi wêreld van rus en vrede. Meeste van Lienkie se kinderskilderye is geïnspireer deur iets wat sy gesien, geskets of afgeneem het.
Enid Robat is nog ‘n wildslewe kunstenaar wat ‘n soldeer-yster gebruik asof dit ‘n potlood is. Daarmee brand sy die Afrika panorama op leer. Sy is in die Bosveld gebore en grootgeword en haar liefde vir die wild het hier ontstaan. Enid en haar man George, woon in Leeupoort waar sy haar eie gallery het. Haar werk weerspieël haar liefde vir die natuur en elke stuk is uniek.
Tinus Steenkamp van Kromdraai is bekend vir sy skilderye in olieverf, maar is net so vlytig met die palet en op leer. Tinus woon tans op Kromdraai en werk as bestuurder op ‘n wildsplaas waar hy omring is van die natuur waaruit hy meeste van sy kreatiwiteit en kunstigheid put. Sy kunswerke pryk in menige hotelle en lodges in Suid-Afrika.
Nog ‘n kunstenaar buite die grense van Leeupoort, is Corrie Boshoff van Rooiberg. Hierdie sprankelende vrou skilder huisies, voëls en by uitstek roofvoëls. Haar arende en uile is in groot aanvraag by mense wat haar talle uitstallings bywoon.
Leeupoort het nog talle talentvolle mense wat aan die uitstalling gaan deelneem en hier noem ons graag Jannie Ehlers en Tienie Steyn. Die twee kunstenaars is veral bekend vir hulle lintborduurwerk. Hier is veral die “English Country Gardens” tema baie gewild. Jannie Ehlers doen ook Stümph – borduurwerk wat baie vaardigheid en vernuf vereis.
As dit by tapiseries kom, staan Isabel Bezuidenhout vir niemand terug nie. Haar behangsels wat met die hand gemaak is en waarin patrone geweef is, is voorwaar kunswerke. Marieta van Niekerk is Leeupoort se beskeie skilder, maar haar werk is van hoogstaande gehalte. Sy skilder landskappe, voëls en blomme. Rina Oberholzer is ‘n baie veelsydige skilder van Leeupoort. Haar werke sluit in blomstudies, voëls en diere. Grietjie Groenewald doen houtbrandwerk op hout. Sy konsentreer veral op voëls en diere.
Baie mense sit met ongeraamde skilderye of foto’s in hulle huise, daarom is Bill Bitzer en Ian Oberholzer, inwoners van Leeupoort, genader om die pragtige rame wat hulle gemaak het, by die kunsuitstalling ten toon te stal.
Die Agapé-dames van Leeupoort hou hierdie kunsuitstalling onder die afdak van die Woonwapark in Leeupoort Vakansiedorp, op 19 April. Verrigtinge gaan reeds om 18:30 begin en toegang is slegs R20 per persoon en dit sluit kaas en wyn in. Kaartjies is beskikbaar by Rina by 082 322 3907 of Elsie 082 686 9269.
Moet nie hierdie wonderlike geleentheid misloop nie.