General

Laaste operasie tussen SAPD en kommando

THABAZIMBI – Die laaste gesamentlike operasie tussen die SAPD en die kommando was op 18 Maart tydens ‘n padblokkade. S/sers Karra Hudson het die Thabazimbi, Hoopdal en Cumberland polisiestasies bedank vir hulle goeie samewerking.
Insamewerking met Inspekteur Fanie Brits is daar veral baie Telkom koperdiewe in koue nagte vasgetrek. “Ek vra die publiek en die kommandolede wat nou afgaan, om die SAPD te ondersteun. Woon die sektorpolisiërings vergaderings by – dit is tot elkeen se veiligheid,” het Hudson gesê.
Drie kommandolede het reeds ‘n lang skof agter die rug. Twee het reeds die tuig neergelê vanweë hul ouderdom. Oup van Rensburg, Andries Labuschagne en Hennie van Vuuren het tesame 157 jare diens in die weermag verrig. Labuschagne en van Rensburg het aan die begin een sjieling (10 sent) per dag in die weermag verdien. Van Vuuren het in die sestigerjare begin met ‘n soldy van vyf sent per dag.