Jou troeteldier kan jou help gewig verloor
Navorsing het bewys dat as jy fiks wil word en gewig wil verloor, hoef jy nie verder as jou troeteldier te soek nie, dis nou te sê solank jou troeteldier ‘n hond en nie ‘n goudvis is nie.
Volgens die pioniersstudie wat in Amerika deur Hills’s Pet Nutrition gedoen is, is mense meer geneig om by hulle gewigsverliesprogram te bly indien hulle troeteldier ook hierby betrek word. Net soos in Amerika, ondervind Suid-Afrika se inwoners en troeteldierpopulasie ‘n oorgewig epidemie. Studies het bevind dat ‘n derde van Suid-Afrikaanse mans en bykans die helfte van Suid-Afrikaanse vrouens oorgewig is.
Die studie wat in Amerika gedoen is, het bevind dat meer as 50% van alle troeteldiere wat na veeartse geneem word oorgewig is. Hierdie diere is aan dieselfde gesondheidsrisiko’s onderhewig as wat die geval by oorgewig mense is. Dit sluit ernstige siektetoestande soos diabetes, artritis en hartkwale in.
Met die studie wat deur Hills’s Pet Nutrition in samewerking met die Northwest Memorial Hospital in die VSA gedoen is, is bevind dat ‘n getroue troeteldier genoegsame sosiale ondersteuning in die stryd om gewig te verloor verleen en jou gewig te behou. Net soos jou troteldier die regte voeding moet kry, moet jy ook let op wat jy eet. Net so min as wat jou troetelduur baat by daardie skelm happies uit jou bord, baat jy ook nie by daardie skelm middernagtelike happies uit die yskas nie.
Mense geniet dit om tyd saam met hulle honde te spandeer en hierdie kamaradie verleen die motivering om by die gewigsverliesprogram te bly en jou gewig daarna te behou. Hierdie is dalk net die regte gabba wat jy nodig het in jou stryd teen die ronder lyf. Deur pretdinge saam te doen, versterk jy ook die band tussen jou en jou troeteldier.
Daar word egter daarop gewys dat jy eers jou veearts se advies moet verkry voordat jy met so ‘n program afskop. Jou veearts sal jou meer kan toelig aangaande die ideale gewig van jou troeteldier, die regte dieet en tipe van oefening.
Vir meer inligting, en wenke, asook die “Pet Slimmer of the Year Competition”, besoek gerus die webtuiste: www.petfit.com. Hierdie tuiste bevat ook inligting oor hoe jy kan bepaal hoeveel jy en jou troeteldier oorgewig is.
Al is jou troeteldier nie oorgewig nie, is dit steeds ‘n goeie idee om hom by jou program te betrek, die ekstra aandag kan baie vir beide beteken.