General

Paasbolletjies – Vroueblad

Maak gerus dié paasbolletjies vir Paasvrydag se ontbyt. Die witkruis is simbolies van die kruis waaraan Jesus Christus vir ons gesterf het.

Bestanddele
450g koekmeel
‘n knypie sout
1/2 teelepel gemengde speserye
250ml melk
21g suurdeeg (vars of kitsgis)
55-110g botter
55g strooisuiker
2 geklitste eiers
170g korente (skoongemaak)
ekstra koekmeel om te strooi
versoete melk (vir verstryking: meng suiker met melk)

Metode
Sif die meel, sout en gemengde speserye in ‘n mengbak. Verhit die melk tot vuurwarm en voeg die suurdeeg en botter by. Roer totdat die suurdeeg opgelos is. Voeg nou die eiers en suiker by. Maak ‘n gat in die koekmeel, gooi die vloeistofmengsel daarin en meng tot glad. Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide plank en knie die korente in tot deeg elasties is. Plaas in ‘n voorbereide bak. Strooi ‘n bietjie koekmeel bo-oor en bedek met ‘n skoon vaddoek.
Laat die deeg op ‘n warm plek staan om te rys (tot in volume verdubbel is – ± 11/2 uur). Knie af en laat nog 30minute lank rys. Stel die oond intussen op 220°C.
Vorm nou die deeg in klein ronde bolletjies, druk ‘n kruis bo-op elkeen met die agterkant van ‘n mes. Rangskik die bolletjies soos verkies op ‘n gesmeerde bakplaat en laat toe om weer vir 15 minute te rys – dit moet weereens in volume verdubbel.
Strokies broskorsdeeg of ‘n spesiale koekmeel-en-water pasta kan bo-op bolletjies gesit word om hierdie kruis te vorm. Verf bolletjies met versoete melk en bak ongeveer ‘n 15 minute in voorverhitte oond.
Wenk: Die bolletjies bak beter in ‘n klam atmosfeer: plaas die oondbraaipan met kookwater daarin onder in die oond.