Koliek – Vroueblad
Goeiedag, liewe vriendin. Vandag se geselsie is gerig op elke mamma met ‘n baba en elke ouma met ‘n kleinkind.
Ek weet dat jy oor jou kleinding net so voel soos ek oor myne (en ons ouers oor hulle kleinkinders) en daarom gee ek graag ‘n paar wenke oor ‘n onderwerp wat ons almal tot raserny kan dryf, naamlik: Koliek.
Dit word algemeen aanvaar dat ‘n baba tussen drie weke tot vier maande oud, wat onophoudelik huil vir tot drie ure per dag vir ten minste drie dae per week – gewoonlik omtrent dieselfde tyd van die dag of nag – presenteer met die simptome van koliek.
Die diagnose kan slegs gemaak word wanneer ander mediese probleme soos ‘n breuk of ‘n infeksie of ‘n erge uitslag uitgeskakel is. (Middeloorontsteking is ook baie pynlik en kan ook tot ‘n onophoudelike huil aanleiding gee).
Die oorsaak van koliek bly steeds ‘n raaisel en daarom is dit ook ‘n moeilike toestand om te behandel. Die mees algemeen aanvaarde teorie is egter dat ‘n groot wind of kramp van die baba se ingewande aanleiding gee tot koliek. Koliek kan dus ook nie regtig voorkom word nie.
Daar is literatuur wat daarop dui dat ‘n baba se aanpassing by sy nuwe na-geboortelike omgewing en die nuwe ouer se angstigheid wel bydraende faktore kan wees.
Tussen 10% en 20% van babas kry koliek. Seuntjies en dogtertjies word ewe veel (dus 50% dogtertjies en 50% seuntjies) geaffekteer. Koliek word meer algemeen gesien by eersgeborenes.
Tekens en simptome:
Die ouer beskryf ‘n huilende baba wat sy of haar beentjies optrek, vuiste geklem hou en ‘n opgesette magies het tydens die koliekaanval. Die episodes neem gewoonlik ‘n skielike aanvang, mag vir enkele minute tot ure voortduur en kom gewoonlik tot ‘n einde as die baba uitgeput is, of wanneer winde of stoelgang gepasseer word.
Die babas moet egter volledig deur ‘n dokter ondersoek word om enige ander mediese probleme uit te skakel.
Mites en wanopvattings:
Sieklike babas: Hierdie babas is gewoonlik gesond en tel normaal gewig op.
Verhoudingsprobleme: Daar is geen bewyse dat koliek die verhouding tussen ouer en kind beïnvloed nie. Dit is dus nie omdat jy ‘n slegte ma is nie.
Hantering van koliek:
Daar is geen definitiewe riglyne oor die hantering van koliek nie. Eksperimenteer en kyk wat werk. Hier volg egter ‘n paar riglyne wat kan help:
1. Verander die tietie en of die -bottel. ‘n Mens kry antikoliek bottels – doen navraag by jou dokter of apteker. Maak seker die tietie se gaatjie is nie te groot nie.
2. Gee die voeding in ‘n meer regop posisie en vryf die winde voortdurend uit. Vermy gulsige of oorhaastige voedings.
3. Moeders wat borsvoed moet melkprodukte/sjokolade/kaffeïne en neute vermy. Maak seker dat jy nie medikasie gebruik wat koliek uitlok nie.
4. Soms help dit om die formule melk te verander na ‘n aangesuurde of soja produk – bespreek dit eers met jou dokter.
5. ‘n Warm bad, massering van die baba se magie of ‘n warmwater bottel toegedraai in ‘n handdoek op baba se magie mag dalk help. Besluit maar of dit prakties is in Thabazimbi se somer hitte.
6. Daar is medikasie wat deur jou dokter voorgeskryf kan word wat ook kan help met koliek – raadpleeg jou dokter in die verband.
Ten slotte:
Ten spyte van al jou voorsorgmaatreëls en medikasie mag die koliek steeds ‘n probleem wees. Daar is gelukkig berusting in die feit dat dit nie vir ewig voortduur nie. Meeste babas se kolieksimptome verdwyn na die ouderdom van vier maande.
Hou moed, jy gaan een van die dae terugkyk en lag oor die lang ure en nagte se gespook.
‘n Laaste gedagte om met jou saam te neem: ‘n Pasiënt sê nou die dag vir my: “Dokter, het jy geweet jou kinders is al wat jy met jou kan saamneem hemel toe?” Het jy al só daaraan gedink?
Groete en mooi bly.