General

Wenners van ‘Ad van die seisoen’ bekend

Vier agentskappe, Joe Public, Lobedu Leo Burnett, FCB Kaapstad en FCB Activ het almal as wenners weggestap by die eerste Pendoring en KSF en ‘Ad van die seisoen-wedstryd’ vir 2005.
Die oorhandiging het vandeesweek plaasgevind by die kantore van kykNet, een van Pendoring se stigterslede. Advertensies wat geplaas is tussen November 2004 en Februarie 2005 kon vir dié rondte inskryf en ‘n stewige oes is hierdie keer ontvang nadat die vorige ‘Ad van die maand’ in November teleurstellend min inskrywings opgelewer het.
Bemoedigend was dit dat daar nie alleen meer inskrywings ontvang is nie, maar dat die standaard van inskrywings, volgens die beoordelaars ook baie hoog was, met die uitsondering van die tydskrifkategorie. Geen wenner is in dié kategorie aangewys nie, maar FCB-Kaapstad se tydskrif-omslag vir kliënt Santam ‘Ons dek die wynland’ het eervolle vermelding ontvang.
Hoewel inskrywings ontvang is vir die internet-kategorie wat nou ook deel van dié gereelde wedstryd is, was hulle té laat vir beoordeling en sal oorstaan tot die volgende wedstryd. Die volledige lys wenners is:
Radio: Dieselfde span van Lobedu Leo Burnett naamlik skeppende hoof, Vanessa Pearson, Stefanus Nel (kopieskrywer), Alan Lewus (kunshoof) en Fezile Mpela (uitvoerende kunstenaar) het al die finaliste hier opgelewer met hul radio-veldtog vir kliënt Coca Cola Twist wat as’t ware as realiteitsreklame beskryf kan word om die naamverandering van Twist Lemon en Twist Grenadella tuis te bring.
Koerante: FCB Kaapstad se advertensie vir kliënt Klipdrift, Rustyd, het met die louere hier weggestap. Die skeppende span was Francois de Villiers, Anthony de Klerk en André de Wet. Network#BBDO en Joe Public was die finaliste met onderskeidelik ‘n veldtog vir Cell C (A-Z van C) en ‘Uit die diepte’ vir Ocean Basket.
Buitelug en verkooppuntreklame: FCB Activ was die wenner en naaswenner vir kliënt Shoprite met onderskeidelik ‘Baie goedkoop en Lekkergoed’. Verlede jaar se Pendoringprestigewenner, Marius van Rensburg was skeppende hoof én kopieskrywer met Caryn Kohler as kunshoof. Joe Public se plakkaat ‘Doodlekker’ vir kliënt Durex van Pepe Marais (skeppende hoof), Maloto Thobejane (kunshoof) en kopieskrywer Jabu Koata en Francois Delport is in die derde plek aangewys.
TV: Joe Public, in samewerking met FCB Kaapstad, was verantwoordelik vir die wenner, Advertensieman, en die advertensie wat derde was (Hamergooier) vir kliënt Rapport. Beide die advertensies se skeppende span was Pepe Marais en Francois de Villiers, as skeppende hoofde, Hanlie Kriel, kopieskrywer en Anthony de Klerk, kunshoof. Vriendelike Frikkie, geskep deur FCB Kaapstad vir Klipdrift met akteurs Neels van Jaarsveld, Katlego Danke, Tshepo Desando en Sophia Hugo het die tweede plek behaal.
Die sluitingsdatum vir die volgende ‘Ad van die seisoen’ is 7 Junie. Daar is geen inskryfgeld betaalbaar nie en die wenners word outomaties ingeskryf vir Pendoring se jaarlikse reklamewedstryd.