TLU-SA ondersteun GPF projek
Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het in ‘n verklaring gesê dat TLU-SA ondersteun graag verdienstelike projekte. Hy het gereageer op die versoek van die koördineerder van die Slagofferbemagtigingsopleiding van die GPF in Louis Trichardt, mev Santi Venter, dat TLU-SA ‘n aanbieder vir die opleiding verskaf.
Die Streeksbestuurder, Marie Helm, het ingestem om die opleiding vir die Beginners Kursus aan te bied.
Die tema vir die opleiding was “Jou rol as vrywilliger”. Die opleiding het die studente ingelig in verband met die mandaat wat aan vrywilligers gegee word. Die mandaat is naamlik dat hulle hulle dienste kan aanbied aan slagoffers van geweldsmisdade. Dit is ook duidelik aan studente uitgewys dat hulle nie die taak van maatskaplike werkers, verpleegkundiges of ander opgeleide professionele persone oorneem nie. Die taak van vrywilligers is hoofsaaklik om die eerste paar uur na ‘n trauma die persoon te ondersteun. Die opleiding het ook die noodsaaklikheid van skakeling met die SAPS beklemtoon.
Mnr Joubert het gesê dat dit baie belangrik is dat TLU-SA en die gemeenskap ‘n sterk band opbou omdat landbouers en organisasies soos die GPF ‘n onafskeidbare deel van dieselfde gemeenskap uitmaak.