“Operasie skoonmaak”
THABAZIMBI – Thabazimbi was nog altyd gereken as een van die mooiste dorpe in die Limpopo provinsie. Amandelbult Platinum myn het egter hul kommer uitgespreek oor die agteruitgang in sekere gebiede in die dorp en het besluit om ‘n verskil te probeer maak.
Amandelbult het besluit om ‘n skoonmaak aksie te loods. Die beplanning het reeds in Februarie begin deur toestemming van die stadsraad te verkry. Met die hulp van verskeie maatskappye is die skoonmaak aksie uitgevoer op Saterdag, 19 Maart 2005. Die doel van die skoonmaak aksie was om verskeie areas waar bourommel en tuinvullis al ‘n geruime tyd op oop erwe en sypaadjies gestort word, skoon te maak.
Die aksie is geloods om die inwoners van die dorp, deur middel van die media, bewus te maak van die probleem en om ‘n oplossing te vind. Deur die samewerking van alle inwoners kan diegene wat oortree, uitgewys word sodat die stadsraad teen hul kan optree.
Die volgende algemene munisipale reël geld aangaande bourommel en tuinvullis:
Alle tuinvullis of bourommel moet so gou as moontlik, verkieslik dieselfde dag verwyder word na die munisipale stortterrein. Die stadsraad verhuur ook massa houers waarin bourommel of tuinvullis gegooi kan word en wat dan deur die stadsraad verwyder en leeggemaak sal word sodra dit vol is.
Geen persoon mag sy tuinvullis of bourommel stort in die massa houers wat in die sake gebied vir die besighede geplaas is nie. Die volgende nommers kan deur inwoners gebruik word om insidente te rapporteer wanneer bourommel en tuinvullis onwettig gestort word: (014) 784 1525 of 082 922 8447. Daar is ook ‘n beroep op die stadsraad gedoen om hulp te verleen deur daadwerklik teen mense op te tree wanneer insidente gerapporteer word.
“‘n Beroep word ook op elke inwoner gedoen, wat trots is op Thabazimbi, om saam met ons ‘n verskil te maak en insidente van onwettige storting by die stadsraad te rapporteer sodat teen die skuldiges opgetree kan word” het mnr Jurie de Kock, Omgewings koördineerder van Amandelbult, gesê.
Group Five het ‘n trekker en ses werkers beskikbaar gestel om tuinvullis op te laai en aan te ry na ‘n sentrale punt. Daar het selfs van die werkers se kinders kom hand bysit met die aksie.