‘n Stap in die Park
THABAZIMBI – Besoekers aan die Marakele Nasionale Park kan nou ook vir ‘n wildstap in die park bespreek.
Stappers word deur twee gidse vergesel, elk met ‘n grootkaliber geweer indien ‘n gevaarlike situasie sou ontstaan. Die park is nou ook ‘n groot-vyf park met die toevoeging van drie leeumannetjies ‘n paar maande gelede. Die grootste gevaar is egter van die kant van renosters, waarvan beide swart- en witrenosters in die park voorkom, asook olifante.
Die wildstap word net soggens aangebied en vir diegene wat nie in die park oornag nie, is dit maar vroeg uit die vere, want teen 05:00 die oggend ontmoet jy reeds die gidse by Marakele se hoofhek. Reëlings kan getref word vir besoekers aan die bos- of tentkampe wat wil gaan saam stap, dat stappers daar opgelaai word. ‘n Mens kan voel dat die winter se eerste byt reeds in die lug is en dit raadsaam is om maar ‘n warm windbreker saam te vat, al is dit net vir die rit agterop die wildsbesigtigingsvoertuig van die hek tot by die beginpunt van die stap, sowat 12km verder.
Die stap begin die oggend omstreeks 06:00 aan die oorkant van die Tlopi tentekamp by die Apiesrivierpoortdam en duur drie tot vier ure. Hier het ons gidse, Charles en Retha, eers aan ons die prosedures verduidelik van wat om te doen indien ons op een van die gevaarlike spesies sou afkom. Die een van, “staan stil dan sien die dier jou nie raak nie”, is maar halfhartig deur die klompie stappers ontvang. Dit is dan eers wat jy besef waarin jy jou begewe het, veral as jy nie juis ‘n adrenalien-junkie is nie.
Met die wegstap het ons sommer gou op ‘n vars hoop renostermis afgekom. “Die 45-grade waarteen die takkies afgebyt is”, het Charles verduidelik, “sê hierdie is die mis van ‘n swartrenoster.” Nog meer benoude rondkyke, maar die bos is so ruig dat die renoster dalk net enkele meters van ons af gestaan het en ons sou dit nie eens raaksien nie.
‘n Klein troppie waterbokke, met hulle kenmerkende wit kringgatte, bars ewe skielik uit die bosse uit. Na ‘n paar verlore hartslae stap ons toe maar verder aan. Orals is daar tekens dat die ou grotes hier naby is. So is daar die moddergat waar die modder nog redelik nat is na die renosters se gerol daarin en die spoor van die groot kat wat in die nag daar verby gesluip het. ‘n Vinnige verduideliking van die verskil tussen die spoor van die luiperd en die van die leeu en ons stap doodstil in gelid verder.
Gronderosie is nogal ‘n groot probleem waarmee daar in Marakele te doen gekry word. Vir soveel jare is hierdie gebied deur beesboere benut en is vure doodgeslaan sodra dit uitbreek. Dit lei tot die vorming van natriumsoute op die oppervlak waar niks wil groei nie. Gevolglik is daar niks om die grond te bind nie en met die gerigste watervloei word die grondbedekking saamgeneem. Gelukkig het die natuur al deur die miljoene jare hiermee te doen en is daar pioniersgrasse wat hierdie grond begin bind en voorberei vir die meer gevestigde plantsoorte wat goeie weiding en beskutting kan lewer. Hierdie brak kolle lok ook diere wat nie deur hulle normale dieet die nodige soute inneem nie en sodoende die sout uit die grond verwyder.
Net langsaan is daar ‘n miershoop. ‘n Vinnige les in die konstruksie van die kolonie onder die grond met hulle eie lugversorging en verdedigingsmeganismes maak ook deel uit van hierdie natuurstappie. Die kolonies se grootste vyande is die aardvarke, wat tot vyf kolonies per nag sal aanval. Indien ‘n kolonie aangeval word, en die aardvark lekker aan die soet werkers begin vreet, word ‘n sein na onder in die kolonie, waar die soldate die koninging oppas, gestuur. Die soldate is nie so smaaklik soos die gewone werkers nie en hulle begin vinnig boontoe beweeg waar hulle deur die aardvark verorber word. Die kolonie smaak ewe skielik nie meer so lekker nie en die aardvark beweeg na sy volgende maaltyd.
Die stappie teen die koppie uit lewer ‘n hele paar moeë asems. Die uitsig oor die bosveld en die tentekamp daar onder is egter die moeite werd. Teen die oorkantste hang beweeg ‘n paar koedoes en rooibokke. Die kuifkophoutkapper laat ook van hom hoor en gou sing hy en sy wyfie ‘n duet vir ons wat in die amfiteater sit.
Na ‘n blaaskans word die pad af gevat na die stroompie, een van die sytakke van die Matlabasrivier. Hierdie stroompie is standhoudend en het sy oorsprong in die vleigebiede veel hoër op in die park. Onder, langs die stroompie, is dit half skemer al is dit reeds bykans tienuur die oggend. Die rede hiervoor is die inheemse woud van talle hoë bome wat ‘n koepel oor die lopie en aangrensende koppie maak. Net die regte plek vir ‘n laatoggend happie en rustig peusel ons aan die versnapperings wat ons vir die stap saamgeneem het. Charles vertel ons meer van sy wedervaringe en noue ontkomings met renosters. “Net alles begin gewoond raak en nou kyk ons al weer rond of daar nie dalk iets om die draai in die stroompie aankom nie,” merk iemand op.
Hiervandaan is dit is ‘n kort stappie, verby nog varser renostermis, tot by die voertuie.
Beslis ‘n wonderlike en leersame oggend se tydverwyl. Kostes beloop R100 per persoon en sluit die vervoer na en vanaf die vertrekpunt van die stap in. Alhoewel die vertrekpunt van die stap dieselfde bly, word die roetes wat geneem word afgewissel om so min reuk as moontlik na te laat. Besprekings moet vooraf by Marakele se hoofhek gemaak word.
Nog nuus uit die park is dat nagritte op oop wildbesigtigingsvoertuie in die park nou ook beskikbaar is teen R80 per persoon. Voorafbesprekings moet ook by die Marakele hoofhek gedoen word.
Skakel gerus Marakele Nasionale Park by 777 1745 vir meer inligting.