General

Mynwerker verras met kruideniersware

SWARTKLIP – Boi Modise is op 25 Februarie, deur mede kollegas verras met R1 600 se kruideniersware. Groot was sy verbasing toe ‘n bakkie voor sy huis stop vol kruideniersware. Hy wou dadelik weet vir wie dit is. Hannes Conradie en Willem Swanepoel het vir Boi gesê dit is syne. Steeds hoog verbaas wou Boi weet of hy vir hom ‘n paar items kan kies.  Nadat daar aan hom en sy vrou, Maria verduidelik is dat hul alles kan neem het die trane van vreugde behoorlik gerol. Sy vyf kinders (vier dogters en een seun) het dadelik begin om die kruideniersware af te laai. Boi het op 22 November 1974 by Anglo Platinum Union Myn diens aanvaar as smelter. In 1977 voltooi hy sy vakmanskap as ketelmaker by Mortimer. Boi is in 2004 gediagnoseer met emfiseem. Weens sy siekte is sy mediese fonds vinnig uitgeput en moes hy menige maande maar op ‘n skrapse inkomste lewe. Anglo Platinum Union Myn het besluit hul gaan Boi op sy jaarlikse verlof plaas sodat hy weer sy normale inkomste kan verdien, want na sy verlof periode kwalifiseer hy weer vir volle jaarlikse siek verlof. As gevolg van Boi se siekte het die dokters ‘n aanbeveling gemaak dat hy op vroeë pensioen geplaas word. Die aanbeveling word nog deur die myn oorweeg. Boi wil graag al die smelters bedank vir hierdie mooi gebaar.