Jongboerkonferensie
Mnr Paul van der Walt, president van die TLU-SA het tydens die Jongboerkonferensie van TLU-SA op 11 Maart, in Pretoria as ere-gas sy boodskap aan die jongboere van Suid-Afrika gelewer.
‘n Groot aantal sake is op landbou se tafel, wat ‘n wesenlike invloed gaan uitoefen op die volhoubare produksie vermoë van die moderne landbouer. Sake wat spesifiek aandag moet geniet is die kwessie van watergebruik, veral die benutting van boorgate.
Van der Walt het ‘n beroep gedoen op jongboere om die rigtinggewende beginsels vir hulself duidelik uit te klaar. Hy het jongboere aangemoedig om dan eerlik teenoor almal hul integriteit te behou. Hy het ook gesê dat die sprekers van hoogstaande gehalte is en dat hul insette sal bydrae tot die sukses van die konferensie.
Van der Walt wil graag die jongboere gelukwens met die positiewe tema wat vir die konferensie gekies is en wat wyd trap om jongboere te bemagtig. Die tema “Kampioen denke, Kampioen boere”, is voorwaar ‘n treffende slagspreuk in moeilike boerdery omstandighede. Hy het voorts gesê dat met kampioen jongboere kan die probleme van die landbou aangepak en opgelos word.
Die hoofbestuurder van TLU-SA, mnr Bennie van Zyl, het gesê dat hierdie jaarlikse Jongboerkonferensie plaasvind onder leiding van ‘n dinamiese komitee wat sy reëlings puik getref het. Die tema was deur ‘n verskeidenheid kwaliteit sprekers toegelig.
Van Zyl het gesê dat elke jongboer gewis blootstelling gekry het aan ‘n groot aantal kennisbronne, en dat elke jongboer huistoe gaan met ‘n nuwe verwysingsraamwerk om hom of haar in ‘n posisie te plaas om beter en meer effektief te boer tot voordeel van ons land en al sy mense in alle gemeenskappe.