Toestand van Alma – Warmbad pad
Die sekretaris van die Warmbad Boerevereniging, mnr CJ Uys, het in ‘n brief aan die Departement van Openbare Werke sy dank teenoor die departement uitgespreek vir die skraap van die Alma/Warmbad en ook die Nooitgedacht paaie. Mnr Uys het ook sy kommer uitgespreek dat die skoon- en oopmaak van die uitkeervore nie gereeld gedoen word nie.
Hy het ook aangedui dat die grond wat met die skraap van die pad in die uitkeervore beland, nie verwyder word nie. Hy het namens TLU SA lede en ander padgebruikers gevra dat die werkspanne opdrag moet kry om die uitkeerwalle skoon te maak en oop te hou. Dit sal tot besparing vir die departement meebring en verspoeling van gruispaaie sal voorkom word.