General

Spek Harmse by KKNK

Harry Kalmer se trefferkomedie, “Wie is Spek Harmse en hoekom skryf hy Afrikaanse advertensies?” wat vol sale verlede jaar by Aardklop getrek het is by vanjaar se KKNK weer op die planke.
Die stuk is ‘n aweregse kykie in die hedendaagse reklamebedryf en is in 2004 in opdrag van Pendoring geskryf en opgevoer om die reklameprojek se tiende verjaarsdag te herdenk. Spek Harmse is Kalmer, ‘n vorige prestigewenner van Pendoring se agtiende toneelstuk op die professionele verhoog die afgelope 20 jaar.
Hy het reeds sowat dertig plaaslike en internasionale reklametoekennings gewen en het ook al die belangrikste teatertoekennings vir sy teatertekse ontvang. Onder meer ‘n Vita, die Dalro Dawie Malan-toekenning vir die beste Suid-Afrikaanse toneelstuk en die Anglo-Aardklop-toekenning. Dan was daar nog tientalle benoemings en kleiner pryse.
“Dis ‘n amper-donker komedie wat handel oor Afrikaanse reklame.
Dit gaan ook oor ‘n donderstorm, ‘n pap wiel, ‘n kaal man, ‘n kragonderbreking en stukkende ruitveërs. Voeg hierby twee van Afrikaans se top-komediante – Frank Opperman en Pierre Breytenbach – en ‘n meisie wat so jonk is dat sy nog alles weet, en jy het hopelik bestanddele vir ‘n lekkerlag-teaterervaring,” sê Kalmer.
Die hoofkarakter is die Afrikaanse kopieskrywer, Spek Harmse (Frank Opperman), wat afgedank word die oggend nadat hy die Pendoring-prestigeprys gewen het. Spek sit op die stoep van sy eks-vrou se strandhuis. Hy is werkloos, sy jong vrou het weggeloop met haar “personal trainer”, sy eks-vrou is by haar ghoeroe in Indië en sy seun Frik (Pierre Breytenbach) is die hoofsanger van die Afrikaanse punk-band die “Wurmkoppies”. Dus onderhou Spek hom nog steeds.
Die kunsjoernalis, Lizanka (gebore Elizabeth Anna Katharina) Auckamp kom om ‘n onderhoud met Spek te voer … maar Lizanka (Carmen Coetzer) verag alles en almal wat enigiets met reklame te doen het. Spek Harmse, gewapen met ‘n bottel rooiwyn, sy sinisme en sy galgehumor is reg vir haar. Die enigste probleem is, Spek is ook ‘n romantikus – hy glo nog aan dinge soos harde werk, lojaliteit, advertensies en Afrikaans.
Lizanka sien haarself as ‘n kampvegter vir Afrikaans maar na een aand saam met Spek en Frik besef sy dat sy dalk die kat aan die stert beet het oor reklame, oor kaal mans, Afrikaans en heel moontlik oor die lewe.
Waar dit die derde keer is dat regisseur André-Jacques van der Merwe en Kalmer saamwerk, en Opperman en Breytenbach albei die rolle in Kalmer-komedies vertolk het, is dit Coetzer se buiging in een van sy verhoogstukke. Kalmer, ‘n veelbekroonde kopieskrywer, het twee weke nadat hy sy eerste werk in die reklamebedryf gekry het, ook sy eerste toneelstuk opgevoer. Sederdien loop die twee loopbane van hom parrallel en hand aan hand.
“Albei het hul hoogtepunte en sy laagtepunte gehad. Gelukkig is dit in beide gevalle meer  hoogtepunte as laagtepunte. Reklame fassineer my en ek het ‘n dik genoeg vel om dit nou al vir twintig jaar lank te oorlewe. Trouens, reklame was goed vir my – en ek glo ek was ook goed vir reklame. Ek sou nooit oor reklme geskryf het as Pendoring my nie gevra het om dit te doen nie. Dit was op die ou end moerse pret, maar het weer eens bevestig wat ek nog altyd weet. Skryf is skryf. Maak nie saak of jy ‘n advertensie of Griekse tragedie skryf nie. En om Spek te parafraseer: Skryf is hoekom ek gebore is en as ek kan skryf en daarvoor betaal word, is ek in die hemel …”
Wie is Spek Harmse word elke dag van 25 tot 28 Maart in die saal van die Laerskool van Rheede opgevoer.