General

Oud inwoner van die Bosveld oorlede

DWAALBOOM – ‘n Oud en geliefde inwoner van Dwaalboom distrik, oom Paul Putter (87), is na ‘n lang siekbed op 12 Maart 2005 oorlede.
Oom Paul is op 9 Mei 1917 op die plaas Tarentaalpan gebore en het ook daar groot geword. Op 3 Augustus 1947 tree hy in die huwelik met Jannie Jacoba Pelser. Uit die huwelik is vier seuns en twee dogters gebore. Oom Paul en tannie Jannie was 59 jaar getroud.
In 1947 verhuis oom Paul en tannie Jannie na die plaas Klipdrift naby Derdepoort. Op die plaas is baie gesweet en diep spore is ook op die geliefde plaas getrap. In 1982 het die derde oudste seun, Hendrik, die plaas van oom Paul gekoop, waar hy dan ook die harde werk van oom Paul en tannie Jannie voortgesit het.
Hendrik en Pikkie het oom Paul en tannie Jannie met liefde versorg tot die plaas as gevolg van baie terugslae in 1998 verkoop is. Oom Paul en tannie Jannie trek na 51 jaar van die plaas Klipdrift af, waar oom Paul vir 48 jaar gedien het in die kerkraad van die Hervormde Kerk Ruskoppies, Dwaalboom. Hulle lewe is gekenmerk deur diens aan die gemeente en gemeenskap. Oom Paul en tannie Jannie het toe by hul jongste dogter, Hester en Kobus Gouws, in Naboomspruit gaan woon.
Die begrafnis vind vandag, Vrydag 18 Maart 2005 om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Ruskoppies, Dwaalboom plaas. Die diens word gelei deur Ds Adam Barnard.