General

Marakele boere inligtingsdag

THABAZIMBI – Die boere inligtingsdag wat die afgelope Dinsdag by Marakele Nasionale Park aangebied was, het groot belangstelling uitgelok. Mnr Nicholas Funda het in sy openings toepraak gesê dat hierdie inligtingsdag die eerste van sy soort vir Thabazimbi is en dat hy hoop dit ‘n jaarlikse instelling sal word.
Funda het die gaste ingelig oor die geskiedenis van die park en sy ontstaan in 1988 toe hy nog bekend was as Kransberg. Hy het bygevoeg dat die park nie net gewild is vir sy groot vyf nie, maar ook vir sy mooi topografie en landskap. Hy het gesê dat Marakele tans ongeveer 10 000 besoekers per jaar ontvang en dat hulle die paaie in die park reeds later vanjaar gaan opgradeer.
Funda het gesê daar word steeds probleme ondervind omdat ons in hierdie land nie met mekaar kommunikeer nie. Die boere moet met die park hul probleme bespreek en andersom sodat daar positiewe oplossings vir die probleme gevind kan word.
‘n Boer wou weet hoe hulle hul diere gaan beheer en Funda het gesê dat hy met navorsing tot die slotsom gekom het dat daar oral ter wêreld probleme ondervind word tussen boere en parke, en tensy die park ‘n betonmuur regrondom bou, sal daar steeds soms diere uitbreek. Funda het weereens die boere genooi om aan te sluit by die Forum wat uit Hoopdal polisie, boere en Marakele personeel bestaan om hierdie probleme daadwerklik vas te vat.
Catherine Potgieter van die EWT Wildehond Navorsings Projek, het meer duidelikheid gebring oor die rede vir die bewaring van die wildehond as ‘n bedreigde spesie. Potgieter het gesê dat daar huidig ‘n trop van 23 wildehonde in Marakele is en daar nie meer as twee troppe vir die oppervlakte van Marakele aangehou kan word nie.
Een van die gaste wou weet waarom die wildehonde buite Marakele eers geïdentifiseer moes word voordat hul gevang word, waarop Potgieter geantwoord het dat nie alle wildehonde die eiendom van Marakele Nasionale Park is nie en dat van hulle vrylopende honde is.
Prof Gerhard Verdoorn (Birdlife South Africa) het in sy toespraak die boere meer ingelig oor die bewaring van aas- en roofvoëls. Hy het gesê dat die boer baie versigtig met gifstowwe moet werk aangesien dit 25 jaar neem om ‘n aasvoël te vervang. Die aasvoël is vir die boer ‘n belangrike wese aangesien hy siekte verspreiding onder vee en wild help bekamp deur besmette karkasse op te vreet.
Verdoorn het bygevoeg dat die wetenskaplikes meen dat aasvoël restaurante, waarvan Suid-Afrika meer het as die res van die wêreld saam, onnatuurlik is. Hy meen egter dat dit andersom is. Restaurante maak nie die aasvoëls afhanklik nie aangesien hulle steeds kos op hul eie vind.
Antoinette Kotze (LNR) het ‘n praatjie aangebied oor die genetiese bestuur van wild op wildsplase. Kotze het gesê deur ‘n beter boer as jou buurman te wees, moet jy gebruik maak van moderne tegnologie. Sy het die voordele van DNA monsters van vee en wild met die gaste bespreek en hoe dit slegs voordele vir jou boerdery en finansiële status inhou. Registrasies is bekostigbaar en deur jou diere se monsters (van bloed, haarwortel, semen, vleis of vel) by die databank te hou, gaan jou so min as R20 per dier uit die sak jaag.
Ander voordele wat DNA identifikasies vir die boer inhou, is die opsporing van onwettige verskuiwings van vee of wild, monitering van diereverskuiwing van geografiese en kunsmatige landsgrense en forensiese analises by vee- of wilddiefstal. Dit gaan ook tot groot voordeel vir die boer wees wanneer hy sy dier wil bemark en hy in besit is van ‘n DNA sertifikaat wat die dier se bloedlyne en seleksielyne identifiseer.
Die De Wildt jagluiperd navorsings projek, het die gaste verras deur Byron, ‘n mak jagluiperd, aan hulle voor te stel. Die meer dapper ouens het dit nader gewaag om aan Byron te vryf, die res het op ‘n afstand die prentjie gade geslaan en nie heeltemal die vrede vertrou nie.
Marilyn Hall van De Wildt Trust het gesê daar is tans tussen 250 en 270 jagluiperds in gevangenis, 270 in Nasionale Parke en tussen 300 en 600 vrylopend in Suid-Afrika. Die afgelope weke het personeel van De Wildt 199 boere in die Thabazimbi distrik (366 plase) besoek met vraelyste aangaande loslopende jagluiperds. Daar is vagestel dat daar tussen 42 en 63 van hierdie diere loslopend in die omgewing is.
De Wildt se “Wild Cheetah Program” het werkswinkels van stapel laat loop om almal te betrek ter bewaring van die jagluiperd. Indien die boer ‘n luiperd op sy plaas gewaar, help De Wildt die boer om die luiperd lewend te vang, en betaal hom op die koop toe R10 000 kompensasie. Hierdie luiperds ontvang nekbande sodat daar deeglike navorsing gedoen kan word en daarna word hul dan hervestig. De Wildt het tans oor die miljoen hektaar waar hulle borde op boere se plase aanbring om te verklaar dat hy jagluiperd vriendelik is.