Cape Argus Pick ‘n Pay fietsren uitslae
Verlede Sondag is 35 000 deelnemers aan die Argus-fietsren deur ‘n sterk Suidooste wind rondgeruk, sommige selfs bo van hul fietse af. Die sterk wind het die enkel ryers geterroriseer en die enigste skuiling was maar om so ver as moontlik in ‘n bondel te ry.
Aan die einde van die fietsren is 158 beseerdes behandel wat geval het, met een persoon wat vermoedelik ‘n hartaanval bo-op Chapmans Peak gekry het. Gary Graham het gesê dat hy vir vyf minute gestop is sodat ‘n beseerde met ‘n helikopter verwyder kon word. Al die Thabazimbi ryers het egter die wedren ongedeerd voltooi en meeste is darem ook veilig terug tuis, met almal wat ‘n storie of wat te vertel het.
Volgens Riaan Nagel en André du Toit wat in van die eerste wegspringblokke weggespring het, moes hulle reeds so vroeg as 3:30 opstaan om betyds by die wegspringarea te wees. Die kombinasie van ‘n vars luggie met hoola-hoops en dansende dametjies op die maat van polsende musiek by die wegspringblokke, het darem die vroeg opstaan “blues” verdryf.
Twee uur 37 minute en 50 sekondes na wegspring het Russel Downing die eerste Britse wenner van die Argus-wedren geword. Sy eerste woorde met die ontvangs van sy trofee was dat die uitsig wonderlik is. Die professionele ryers het in ‘n bondel geëindig wat in ‘n groot mate veroorsaak was deur die sterk wind. Die wentyd was ook ‘n goeie ses minute stadiger as die vorige jaar se rekordtyd. Die wenner in die dames afdeling was Anke Erlank, in ‘n wentyd van drie uur en 20 sekondes. Sy was ook verlede jaar die wenner onder die dames.
Thabazimbiërs se tye was as volg: Riaan Nagel – 3 uur 4 min 42 sek (hy het 620 ste algeheel geëindig en 73ste in die veteranegroep), André du Toit – 3 uur 17 min 36 sek, John Trollope – 3 uur 50 min 48 sek, Peter Trollope – 3 uur 56 min 54 sek, Susie Walters – 4 uur 01 min 38 sek, Gary Graham – 4 uur 03 min 42 sek (sy eerste Argus), Ronel Botha – 4 uur 26 min 02 sek, Stefaans Botha – 5 uur 09 min 57 sek, Stephan Enslin – 4 uur 48 min 22 sek, Charl en Linda Brits – 4 uur 49 min 27 sek en Diana Odendaal – 5 uur 49 min 10 sek.
Thabazimbiërs moet egter die trotste wees op Joyce Swanepoel wat die ren voltooi het in 6 uur, en dit op die ouderdom van 62 jaar met ‘n hand wat sy twee weke voor die ren beseer het. Die Thabazimbi fietsryers het hul dank en waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hul belangstelling en ondersteuning met vanjaar se Argus.