General

Pasop vir slaggate

Na bewering het ‘n toeris wat Suid-Afrika onlangs besoek het, medetoeriste op die internet gewaarsku teen slaggate in Suid-Afrikaanse paaie. Hy het ook beweer dat sommige gate heuphoogte is en dat een sy voertuig byna in twee gebreek het.
“Dit is waar, ons paaie het dringend herstelwerk nodig,” sê mnr Herman Lemmer, uitvoerende hoof van die Padvereniging. Lemmer sê dat die agterstand in besteding aan padinstandhouding tussen R30- en R40 miljard beloop.
Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), is daar sowat 536000km bekende paaie in ons land. Daarvan is 300978km provinsiale paaie, 170000km plaaslike paaie en 9608km Nasionale paaie waarvan 2421km tolpaaie is. Daar is egter 7161340 voertuie op ons paaie.
As paaie driejaarliks opgegradeer word of in stand gehou word, kos dit R100000 per kilometer. Sou dit tot agt jaar gerek word, styg die kostes tot R1,8 miljoen per kilometer.
Padverbruikers betaal ongeveer R16 miljoen per jaar aan verskeie belastings, maar dit word nie net aan padinstandhouding spandeer nie. Die gemiddelde besteding aan paaie was voorheen R3.3 miljard per jaar, maar in 2002 en 2003 is slegs R5.939 miljoen toegewys.
Tolgeld word op slegs 25% van Suid-Afrikaanse Nasionale paaie gehef en Sanral is vir die res verantwoordelik. Terwyl Sanral met onvoldoende fondse worstel, raak die paaie se toestand erger. Vragmotorbestuurders is al daarvan beskuldig dat hulle tot 60% van die skade aan ons paaie bydra.
Oorlaaide vragmotors veroorsaak skade van sowat R600 miljoen per jaar. “Lewens kan gered word deur maatskappye vas te vat waarvan vragmotors oorlaai is”, sê Ian Auret, voorsitter van die komitee vir Aktiewe Padveiligheid (Cars).