General

Limpopo boere sê NEE vir 10% loonverhoging

Mnr Stephan Hoffman, kommoditeits voorsitter van die Ekonomiese Sake komitee van TLU SA Noordstreek het sy kommer en teleurstelling uitgespreek na die openbare voorlegging wat op Dinsdag, 22 Februarie plaasgevind het.
Tydens ‘n voorlegging aan die Departement van Arbeid op Dinsdag, 22 Februarie te Pietersburg het georganiseerde landbou en ander belangegroepe hul menings hard en duidelik gegee ten opsigte van die voorgestelde 10% verhoging in die minimum loon. Sedert die implimentering in Maart 2003 skryf die wet ‘n jaarlikse eskalasie van 10% voor tot en met Maart 2006.
Departement Landbou het “openbare voorleggings” (public hearings) landwyd gereël en insette gevra rakende sekere aspekte van die wet wat problematies is of dreig om te word. Daaronder die bepaling van twee loonkategorieë, die jaarlikse 10% eskalasie, aftrekkings vir behuising, voedsel en lewensmiddele, die 27 h proviso vir uurlikse besoldiging en laastens die aanspreek van regte van arbeid wat onder die huurarbeider of plakker diensbode status funksioneer.
Die huidige ekonomiese klimaat konfronteer landbou egter met feite wat nie weggewens kan word nie, naamlik: Landbou SA bevind homself in een van die strafste droogtes aan ons bekend – sedert 2000 se vloede het daar nog nie weer goeie reëns geval nie; produksie uitsette daal tot die laagste vlak in jare. Prysrealisasie op die binnelandse markte is swak; mielieprys daal tot ‘n rekord laagtepunt; die sterk rand plaas ‘n groot demper op uitvoere en tesame met die lae tariefbeskermingsbasis bevorder dit storting van internasionaal gesubsidieerde produkte op ons binnelandse mark; insette soos brandstof, tolpaaie, landbouchemikalieë, saad en onderdele is gegewe en daar is slegs baie beperkte moontlikhede om te spaar; landbouprodusente is prysnemers en daar bestaan geen meganisme waarmee hulle hul produkpryse kan vasstel nie; landbou se skuldlas neem skerp toe en baie boere se situasie is so haglik dat slegs klein wisselings in pryse mag veroorsaak dat hul besigheid sal moet staak en dit mag tot ontslag van honderde of selfs duisende plaasarbeiders lei.
Wanneer al die bogenoemde in ag geneem word is dit duidelik dat landbou dit net eenvoudig nie kan bekostig om vanjaar ‘n 10% verhoging toe te staan nie. Die risiko is te groot dat addisionele druk op produsente tot grootskaalse werksverliese mag lei. Landbou is die primêre werksverskaffers vir onopgeleide en ongeletterde persone. Dit is juis hulle wat die mees kwesbare is omdat dit die eerste mense sal wees wat ‘n inkomste en dus kos op die tafel ontsê sal word.
Tot nou toe was landbou in Limpopo nog baie suksesvol om hul roeping te vervul naamlik kos in die bord van elke lid van elke familie in die provinsie en werksgeleenthede vir baie wat nêrens anders ‘n heenkome sal vind nie. Dit was tot nou toe moontlik gemaak deur goeie finansiële bestuur en verantwoordelike besluitneming, veral in tye wanneer die risiko’s hoog en die ekonomie swak was.
Mnr Hoffman het afgesluit en gesê dat “ons glo dat die regering op ‘n verantwoordelike wyse met die voorleggings sal handel sodat daar positiewe voorstelle aan die minister van Arbeid deurgegee kan word waarin die belange van landbou en al sy rolspelers eerste gestel word”.