TLU SA se standpunt oor grondsake
TLU SA onderskryf ‘n landboubeleid wat gebaseer is op gesonde ekonomiese beginsels ter wille van volgehoue en groeiende produksie van voedsel en vesel. Die uitgangspunt is derhalwe gegrond op die ekonomiese volhoubaarheid van kommersiële landbou.
‘n Gesonde wisselwerking tussen die Staat en kommersiële landbou vir ‘n gekoördineerde nasionale landboubeleid sal onder andere aspekte soos in- en uitvoerbaarheid, tarifisering, vitosanitêre maatreëls, navorsing, opleiding, voorligting en beskerming van die bodem en hulpbronne insluit. BBBEE, “Broad Based Black Economic Empowerment” (volgens Wet 53 van 2004) is die wetlike magtiging van die staat om met die “transformation process” ekonomiese herstrukturering te pleeg. “Black” word as anti-wit gedefinieer en is sodoende rassisties van aard en het ten doel om “diverse but intergrated socio-economic strategies” aan te wend om “black people” wetlik te bevoordeel tot “communal ownership” van suksesvolle ekonomiese instellings.
AgriBEE, “Agricultural Black Economic Empowerment” is die verlenging van die BBBEE tot die landbousektor en die implementering van die “Land Reform Program”. AgriBEE “is the elimination of large and medium properties, of the system wage compensation, and of sharecropping” deur die invloei van arbeiders as “grondeienaars” en moet saam gelees word met die Restitusie Wet (volgens Wet 22 van 1994) oor grondeise.
TLU SA se uitgangspunt is die volhoubaarheid en produktiwiteit van kommersiële landbou deur die landbouer op die grond te hou en sy mededingendheid te verseker. Toegang tot die landbousektor en tot landbougrond kan alleen verseker word deur die bestaande markkragte en die beginsel van “vrywillige verkoper en vrywillige koper”. Die volhoubaarheid van ‘n hoë risiko bedryf het nie met die toevloei van getalle “Black people” te make of die oordra van vaardighede nie, maar met die iteratiewe bestuur van ‘n hoë tegnologie en inligtinggedrewe bedryf. Alleen op grond hiervan kan landbougrond konstruktief ontwikkel word. Alleen wanneer daar sekuriteit in die kommersiële landbou sektor rondom privaat eiendomsbesit is, sal beleggers vertroue verseker kan word.
Landbouproduksie word deur ekonomiese faktore van vraag en aanbod sowel as die klimatologiese element bepaal. Die behoud van produktiwiteit en mededingendheid is alleen moontlik indien kommersiële landbou se produksievermoë in ‘n konstante groei behou kan word om voedsel sekerheid te verseker en internasionaal mededingend te bly. Deur produktiwiteit en mededingendheid word die voortbestaan van kommersiële landbou verseker.
Kommersiële landbou is ‘n hulpbron wat volhoubaar bestuur moet word om voedsel sekerheid en die aanvraag na landbouprodukte te beheer. ‘n Hoë risiko bedryf se
volhoubaarheid word bepaal deur die kundigheid in die bedryf en die toegewyde landbouer op die grond. Die volhoubaarheid van landbou as hulpbron word bepaal deur die toewyding en karakter van die kommersiële landbouer en nie deur die bestaansboerdery of kommunale boerdery benadering nie.
Die ANC-regering is verbind tot “good and transparent governance” om die AgriBEE-program van grond en landbou herstrukturering te laat slaag. Dit sluit verder in die verskaffing van infrastruktuur en dienste. In die Afrika-konteks is AgriBEE hoofsaaklik sosialisties en polities gedrewe en nie volgens die eise van die ekonomie nie. Op grond hiervan word die “common good” aangehaal om selfs die konfiskering en verkryging van kommersiële landbougrond af te dwing. Mnr Joubert het ‘n dringende beroep op die regering gedoen om die rassistiese grondslag van die wetgewing in heroorweging te neem. TLU SA ondersteun bemagtiging vir almal wat burgers van Suid-Afrika is. Veral in die lig van die selektiewe selfverryking en grootskaalse korrupsie wat uit Swart Ekonomiese Bemagtiging spruit behoort ras as seleksie kriterium vermy te word.