Pendoring seëvier in Amsterdam
Afrikaanse reklame – en veral die Afrikaanse reklame-wedstryd Pendoring, het trots gepronk by ‘n reklame-uitstalling wat verlede week in die Nederlandse hoofstad Amsterdam gehou is.
Dié opwindende uitstalling word jaarliks deur die Nederlandse organisasie van skeppendes, die Art Directors’ Club Nederlands (ADCN) gereël en dit was die eerste keer dat ‘n Suid-Afrikaanse toekenning genooi is om uit te stal.
Arjen de Jong, skeppende hoof van Cygnus X-3 in Amsterdam en verlede jaar se internasionale Pendoring beoordelaar, asook Peter van Leeuwen, ‘n vorige beoordelaar, was die dryfvere agter die uitnodiging.
Pendoring het die room van Afrikaanse reklame by die uitstalling by Angel Studios in Amsterdam se hawegebied tentoon gestel. ‘n Verskeidenheid gedrukte media is uitgestal terwyl ‘n CD en DVD met die beste Afrikaanse radio en televisie advertensies deurlopend gespeel is.
Die hoogtepunt van die vier dae-lange uitstalling was egter ‘n Afrikaanse aand wat verlede Woensdag deur die organiseerders van Pendoring aaangebied is. Plaaslike agentskappe, reklameskeppers en studente asook talle Suid-Afrikaners van regoor Nederland het die geleentheid bygewoon. Vir die Suid-Afrikaners veral was dit net lekker om weer Afrikaans te kon hoor en praat, en te kon lag vir skerp Afrikaanse reklame.
Francois de Villiers, skeppende hoof van FCB Kaapstad het ‘n aanbieding gelewer oor Afrikaanse reklame en die uitdagings wat die plaaslike bedryf in die gesig staar. Hy het mense laat skater van die lag met die oorspronklikheid van Afrikaans. Dit was juis vir baie van die Nederlandse reklame-skeppers opvallend hoe Afrikaans oorspronklike ‘nuwe’ woorde skep vir nuwe produkte en dienste en nie by ander tale ‘leen’, soos wat die geval is met Nederlands nie.
“Afrikaans is baie vars en skeppend,” meen de Villiers. “Jy skep die taal amper soos jy hom skryf.” Hy was egter baie beïndruk met die uitstalling en glo Nederlandse reklame is skoon en klassiek en baie sterk konsepsueel.
Die gehoor is ook getrakteer op eg Suid-Afrikaanse eetgoed en wyn – alles te danke aan ‘n Suid-Afrikaanse paartjie, Hannie en Chris Jacobs wat ‘n spyseniersonderneming uit Rotterdam bedryf, en Matthias Kleingeld, eienaar van ‘n Suid-Afrikaanse restaurant in Amsterdam. KWV het ook van sy top brandewyn saamgestuur vir die geleentheid.
Me Neliswa Nkani, hoofbestuurder van SA Toerisme in Amsterdam, en mnr Chris Botha van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Den Haag. Het uit hul pad gegaan om te help om die aand so Suid-Afrikaans én Afrikaans moontlik te maak.
Gaste was verras toe CD’s van Afrikaanse kunstenaars soos Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Dawid Kramer, Lucas Maree, Afrika Mammas en Jannie du Toit aan die einde van die aand uitgedeel is. Die CD’s is deur die musiekverspreidings-maatskappy JNS geskenk.
‘n Span van Pasella het op uitnodiging van Pendoring ook die uitstalling in Amsterdam bygewoon. Suid-Afrikaanse TV-kykers sal dus eersdaags reklame se internasionale buiging op SABC2 kan beleef. Pasella het ook by verskeie Afrikaners wat in Nederland woon en werk gaan aanklop.
Die besoek aan Amsterdam is moontlik gemaak deur borgskappe van die bankgroep Absa, en die Duitse lugredery Lufthansa het al die vlugkaartjies vir die organiseerders en joernaliste verskaf terwyl Absa alle verblyfkoste gedek het.
Hopelik sal Pendoring weer in die toekoms die ADCN se uitstalling in Amsterdam kan bywoon – en weereens Suid-Afrikaners trots maak op dit wat eg Suid-Afrikaans en eg Afrikaans is.