General

Oud inwoner oorlede

THABAZIMBI – ‘n Oud en geliefde inwoner  van Thabazimbi, tannie Ellie van Deventer (90), is op 24 Februarie oorlede. Tannie Ellie is op 27 Oktober 1914 te Soutpansdrift, in die distrik Brits gebore. In die moeilike depressiejare ontmoet sy Kosie van Deventer, een van die pioniers van die Yskor Thabazimbi myn. Na hul troue vestig die egpaar hul op Thabazimbi waar hul diep spore getrap het. Hul voorliefde vir die boerdery was maar altyd daar, en sy en oom Kosie het ‘n deeltydse boerdery uitgebrei tot ‘n spog bedryf. Dit was die egpaar nie beskore om kinders van hul eie te ontvang nie, tog was hul liefde vir alle kinders ‘n besondere kenmerk en het die laerskool jaar na jaar ‘n bees ontvang. Haar lewe saam met oom Kosie is gekenmerk deur diens aan die gemeente, gemeenskap en Afrikanervolk. Na ‘n geseënde huwelik van langer as ‘n halwe eeu het haar geliefde Kosie haar in 1995 ontval. Reeds tydens oom Kosie se laaste jare was tannie Ellie nie gesond nie, maar telkens het sy mooi herstel, tot die bloedkanker verlede jaar ernstig sy tol begin eis het. Met groot hartseer moes sy haar geliefde Thabazimbi verlaat, en is sy in die Waterberg Ouetehuis op Nylstroom opgeneem, waar sy oorlede is. Tannie Ellie sal altyd onthou word vanweë haar sagte, liefdevolle geaardheid. Die begrafnis het plaasgevind op 3 Februarie, om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk, Thabazimbi. Die diens is gelei deur dominee Malan van Rhyn.