General

Ons lesers skryf – Skouer aan die wiel sit

Thabazimbi word beskryf as een van die mooiste plekke in die Bosveld.
Mense van heinde en verre wil graag hierheen verhuis, aftree, die stilte van die Bosveld ervaar, tuur oor die berge en die natuurskoon beleef. Vir my kan jy nie nader aan God se skepping kom as in Thabazimbi nie. Ek as inwoner is bekommerd oor die feit dat ons dorp vol rommel bestrooi is, die elektrisiteit raak ‘n probleem en die water is nie suiwer genoeg nie. Talle probleme word ondervind, en dit lyk vir my of niemand iets omtrent die probleem doen nie.
Wat my ook na aan die hart lê is dat stap in die oggende raak al moeiliker, want die reuke en vullis wat rondê, sal enige iemand se dag omkrap.  Sien of hoor ook nêrens meer voëltjies tjirp nie, het hulle dalk ook gevlug?
Kan ons hulp verleen, ek glo in my hart dat daar talle mense is wat met my brief saamstem. Talle buitelanders, jagters en vakansiegangers besoek ons dorp en ja, is dit die beeld wat ons wil uitdra? Skoolaktiwiteite vind daagliks plaas met besoeke vanaf ander dorpe en stede. Is Thabazimbi nie veronderstel om ‘n toerisme dorp te wees nie?
Ons skole is van die beste in die land. Kom Thabazimbi, kan ons nie saamstaan en miskien die volgende oorweeg:
Voorstelle word benodig, soos “AKSIE GROOT SKOONMAAK”.
Talle persone het bakkies en sleepwaens.  As almal saamstaan en hierdie projek van die grond af kry, sal Thabazimbi weer kan wees soos vroeër.
Ek is bereid om my deel by te dra, is u bereid?
Indien u my wil bystaan om Thabazimbi weer te kry soos ‘n dorp moet lyk waarop ons trots kan wees, kan u my kontak by 0727798589.

Groete

Bekommerde inwoner van Thabazimbi