Ongeluk eis vier lewens
THABAZIMBI – ‘n Ongeluk waartydens ‘n ambulans ‘n blouwildebees getref het, het vier van die pasiënte se lewens geëis.
Die ongeluk het Maandagoggend ongeveer 12 kilometer voor Warmbad gebeur. Die Provinsiale ambulans was vanaf met vyf pasiënte vanaf Thabazimbi Provinsiale hospitaal na Potgietersrus onderweg toe hulle ‘n blouwildebees getref en die ambulans omgeslaan het. Die blouwildebees het vermoedelik uit een van die talle natuurreservate langs die pad gebreek.
Na wat berig word is die bestuurder en vier van die pasiënte tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger. Mnr Pieter Erasmus (30), enigste oorlewende pasiënt, het voor by die drywer gesit en het sy veiligheidsgordel gedra. Twee pasiënte is opslag dood en een is later dieselfde dag oorlede. ‘n Vierde pasiënt het Dinsdag aan sy beserings beswyk. Erasmus het enkel-, skouer-, nek- en kopbeserings opgedoen en dra ‘n nekstut. Sy linkerbeen is ook in gips. Die drywer het ligte beserings opgedoen. Hy is intussen terug na Thabazimbi Hospitaal oorgeplaas.
Erasmus sê die pasiënte wat agter in die ambulans gery het, het die drywer gemaan om stadiger te ry aangesien hy na bewering ‘n spoed van tussen 160 en 170 kilometer per uur gehandhaaf het. Hy het egter gesê dat hulle laat is, en het blykbaat nie op hulle versoek gereageer nie.
Volgens die polisie op Warmbad word ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.