General

Kommer oor werksomstandighede van veldwagters

Die DLU voorsitter van Koedoesrand, mnr Rudi Heinlein, het ‘n ernstige beroep op die LUR, mnr Collins Chabane gedoen om dringend aandag aan werksomstandighede van natuurbewaringsbeamptes in die Ellisras gebied te skenk.
Tydens ‘n DLU raadsvergadering is kennis geneem van die erge voertuig tekort wat tans deur die beamptes en veldwagters ondervind word. Dit veroorsaak dat die amptenare nie hulle werk kan uitvoer nie. Daar is kennis geneem dat die kantore nou alreeds vir vier jaar vir nuwe voertuie wag.
Die gebied, wat huidig deur twee beamptes, een klerk en sewe veldwagters bedien word, verteenwoordig die grootste landdrosdistrik in die provinsie. Die gebied is 21 900km² en dek die hele Ellisras gebied. Daar is dringend nog een beampte, ten minste drie veldwagters en een addisionele 4×4 voertuig nodig om die huidige werklas te verlig.
Amptenare en veldwagters kla dat oortyd reeds vanaf September 2004 uitstaande is. Dit blyk dat die korrekte aanstellingskaarte (volgens wet 7 van 2003) nog nie uitgereik is nie, dat amptenare nog nie aan die nuwe vuurwapenwet voldoen nie, dat die “Certificate of Appointment: Peace Officer” wat deur die ou TPA uitgereik is, ook nog nie vervang is nie. Dit lei daartoe dat amptenare nie hulle werk na behore en volgens wetlike voorskrifte kan uitvoer nie.
Die publiek sien dikwels nie die moeilike omstandighede raak waaronder amptenare hulle werk moet doen nie en dit lei tot frustrasies onder amptenare wat produktiwiteit nadelig beïnvloed. Mnr Heinlein het ‘n ernstige beroep op die Departement gedoen om amptenare by te staan en aan hulle die toerusting en mannekrag wat benodig word, te verskaf.