General

HFM rugbyspeler beseer in hoogvat

THABAZIMBI – ‘n Jong rugbyspeler van HFM se O/15B span, Danie Vos, is die afgelope naweek hier beseer na ‘n gevaarlike hoogvat in hul wedstryd teen Middelburg. Danie is halftyd van die veld gedra en per ambulans vervoer na die plaaslike hospitaal.
Hul afrigter, mnr Koos Jacobs, het bevestig dat Danie nie breke in sy nek opgedoen het nie, maar wel sy spiere so beseer het dat hy ‘n nekstut moet dra en vir die res van die seisoen nie verder rugby sal kan speel nie. Die O/15B span het ondanks hul ontnugtering met Danie se besering, die tweede helfte onder groot druk gespeel en Middelburg aan die einde van die wedstryd met 12/5 geklop.
Die O/16B en tweede rugbyspan slaag ook daarin om die teenstanders in die stof te laat byt. Vier van HFM se netbalspanne, O/14A, O/14B, O/17A en O/17B stap weg as oorwinnaars teen Middelburg. Met die hokkie slaag die O/14B en die eerste span daarin om Middelburg te wen.