Cape Argus Pick ‘n Pay fietsren weer hier
THABAZIMBI – Dit is alweer daardie tyd van die jaar waar die land se paaie vol fietsryers is wat fanaties voorberei vir die Cape Argus fietsren. Hierdie fietsren wat die grootste fietsren van sy aard ter wêreld is, byna 35 000 deelnemers, vind Sondag, 13 Maart plaas.
Deelnemers van regoor die wêreld kom hier deelneem en Thabazimbi en omgewing lewer ook ‘n kwota van byna dertig fietsryers op wat die moederstad binnestroom met motors, vliegtuie en treine.
Die ren strek oor ‘n afstand van 109 kilometer op een van ons land se mees skouspelagtigste kusroetes wat onder andere plekke soos Chapmans Peak, Muizenberg en Simonstad insluit. Die professionele fietsryers lê die afstand in ongeveer twee en ‘n halwe uur af terwyl die pretryers tot so lank as ses ure in die saal deurbring.
Vanjaar sal dit die eerste keer in die ren se geskiedenis wees dat voltydse televisiedekking (soos tydens die Comrades) gaan plaasvind en dit wel op Supersport 2. Die uitsending begin reeds so vroeg as 06:00. Thabazimbi se fietsryers bedank die hele gemeenskap vir hulle ondersteuning en verdraagsaamheid met hul teenwoordigheid op die paaie.