Luiperd Ope weer ‘n reuse sukses
Jackie Lombard
THABAZIMBI – Die Luiperd Ope R4 diens skietkompetisie wat Saterdag, 26 Februarie, op die Koos Cronje skietbaan gehou is, was weereens ‘n reuse sukses. Skuts vanoor die hele Transvaal het aangemeld vir die opwindende kompetisie wat vir die tweede keer na 15 jaar weer aangebied is. Verrigtinge het die oggend afgeskop met die opening deur luitenant kolonel Herman Heine waar hy ook die eregas, mnr Koos Cronje (dié skietbaan is na hom vernoem) welkom geheet het . Daarna moes lede en nie-lede tradisie voortsit met die gebruiklike pampoer sopie en Japie die Luiperd rympie. Skuts het hul plekke ingeneem vir die 100m, 200m en skrikwekkende 300m. Gesoute manne en vroue het mekaar die stryd aangesê, party het gekniel en gestaan, ander het weer gelê en selfs gesit om hul slag te wys. Die verskillende klasse waarin deelgeneem is, was A (gesoute skyfskieters wat gereeld skiet), B (skuts wat minder gereeld oefen) en die X-Klas (teleskoop op die geweer). Straf was die kompetisie beslis. Skuts so ver as Potgietersrus, Louis Trichard, Hoedspruit en Ellisras het deelgeneem. Luitenant kolonel Heine het weer skoonskip gemaak onder die manne en met vyf trofeë aan die einde van die dag gespog. Een van die hoogtepunte was ook korporaal Marieta de Wet se prestasie. Vir die eerste keer in die kommando se geskiedenis verower ‘n vrou twee trofeë. Puik gedaan Marieta! Nog ‘n staatmaker van Thabazimbi Kommando was sersant Pieter Roets wat ook ‘n trofee verower het. Thabazimbi Kommando is bekend vir hul gasvryheid en weereens is die gaste nie teleurgestel nie. Staf sersant Gerhard de Wet en weerman Ann Pienaar het aan die stuur gestaan en gesorg vir die heerlikste verversings. Almal is dit eens dat dié Luiperd Opedag vir lank onthou sal word.