Rugbydag op Thaba ‘n groot sukses
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Wat ‘n dag was die afgelope rugbydag op Thabazimbi toe. Daar was baniere, kos, drinkgoed en baie sonskyn met uitstekende rugby. Wat meer wil ‘n rugbyliefhebber dan hê.
Rugby het Saterdag weer voorgeloop op Thaba en almal is op rugby van hoogstaande gehalte getrakteer. Die hitte het nie juis die spelers afgeskrik nie, want hardloop rugby was aan die orde van die dag.
Thabazimbi het in ‘n harde wedstryd van twee uiterste helftes gespeel. Die eerste helfte het Centurion se tweede span voorgeloop met 14 punte teen nul. Hulle agterlyn het Thaba stukkend gehardloop en binne tien minute twee drieë gedruk wat ook verdoel is. Thaba kon gelukkig keer, maar hulle kon nie uit die wurggreep ontsnap nie. Die tweede helfte het Thaba met die bal begin hardloop en ‘n agterstand van 19 punte teen 5 uitgewis en met 19 punte elk geëindig. Met hierdie spel het Thaba baie harte gewen en sal hulle nog meer wen as hulle so aanhou speel.
Punte makers was Jeremy Fernandes met twee drieë en Eric Mdyogolo met een. Jaco Schlebush het met twee doelskoppe geslaag. Thaba se tweede span het vir ‘n groot verrassing gesorg toe hulle Northam Platinum se eerste span met 28 punte teen nul geklop het. Alhoewel Thaba baie ligter was as die Rhinos het hulle goed met die bal gehardloop en vier drieë gedruk. Puntemakers met drieë was Christo Rheeders, Jaco Schlebush, Deon Schlebush en Rudy Joubert. Jaco slaag ook met vier doelskoppe.
Mogol het in ‘n baie harde wedstryd met 34 punte teen 10 verloor teen Centurion se eerste span. Dat rugby in die platteland nog gesond is en nog goed kompeteer met die ander streke is weereens bewys met die uitslae Saterdag.
Die uitslae van al die wedstryde is as volg:
Roodepoort 3 (25) – Swartklip 2 (7)
Thaba 2 (28) – Northam Platinum 1 (0)
Centurion O/20 (34) – Warmbad (0)
Pretoria O/20 (28) – Nylstroom (7)
Centurion 3 (3) – Vaalwater (13)
Swartklip 1 (17) – Roodepoort O/20 (17)
Roodepoort 2 (27) – Pretoria 2 (12)
Centurion 1 (34) – Mogol 1 (10)
Thaba 1 (19) – Centurion 2 (19)
Roodepoort 1 (29) – Pretoria 1 (22)
Thaba Rugby bedank weereens die borge wat die dag moontlik gemaak het.
Hierdie Saterdag word daar ‘n rugbydag op Swartklip se velde gehou wat ook deur hulle aangebied word. Die spel begin reeds om 11h00.