PPC ondersteun Cambridge kursus
THABAZIMBI – Die Cambridge kursus wat by Hoërskool Frikkie Meyer aangebied word, word vir die tweede jaar finansieel geondersteun deur PPC Sement, Dwaalboom.
Mnr Bernard Venter en mnr Corné Brink, van PPC Sement, maak met hul bydrae dit moontlik dat leerlinge op ‘n hoër akademiese vlak kan in beweeg.
Sodoende is die leerlinge beter voorbereid vir matriek en ook paraat vir tersiêre onderrig by ‘n universiteit van hul keuse. Dit is die tweede jaar van die Cambridge kursus by HFM en die getal leerlinge het van 11 tot 36 gegroei. Saam met Biologie word Fisika ook nou aangebied en drie top dosente, me Saret Le Roux, me Martha van Schalkwyk en me Charlene van der Walt, bied die vakke aan.
Hierdie kursus dien as ‘n uitstekende geleentheid om die oorbruggingsfase tussen Gr 12 en eerste jaar tersiêr, te oorkom. Dit bied ook ‘n voordeel vir HFM leerlinge om die geleentheid te hê om eksamens te slaag wat op wêreld standaard is en waar hulle kennis so getoets word dat daar nie twyfel bestaan oor hulle kwalifikasie nie.
Die feit dat die verskil tussen standaardgraad en hoërgraad moontlik gaan verdwyn, laat die moontlikheid oop dat Cambridge as ‘n aparte akademiese baan by skole geïmplimenteer sal moet word en sal HFM reeds gerat wees vir so ‘n moontlike verandering.