Gesprek tussen TLU-SA en AGRI-SA
Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het op versoek van die Tom Bourke Boere vereniging, die voorsitter van Agri SA Limpopo, dr John Williams, Vrydag 4 Februarie 2005 besoek.
Volgens mnr Joubert was die gesprek baie ontspanne en informeel.
Gemeenskaplike sake, wat bykans elke boer raak, was bespreek. Oor die Agri-SEB saak wat eerste bespreek is, het TLU-SA die konsep verwerp, maar ondersteun wel ekonomiese bemagtiging vir almal. Die TLU stel dit ook duidelik dat nie die proses of einddoel bekend is nie. Dit is daarom in elk geval onmoontlik om sinvol aan die proses deel te neem. Daarteenoor glo Agri SA dat die nuwe benadering bestuur kan word. Op die Vuurwapen Wet bespreking is TLU-SA se standpunt dat daar nog baie hindernisse ten opsigte van bestaande wettige wapens bestaan. Die wysiging van aspekte van die wet sal met die owerheid opgeneem word, en selfs beveg word indien nodig. Privaat besitreg is ‘n grondwetlike reg en enige inbreuk op ons menseregte sal beveg word.
Volgens Agri SA sal die wet nie ernstige impak op die landbou hê nie.
Die TLU-SA se standpunt oor die Water wet was duidelik. Heffings en belastings ten opsigte van privaat ontwikkelde water is onbillik en onaanvaarbaar. Daar is ook nog nie voldoen aan die opvangsbestuursprogramme deur die Departement van Waterwese ten opsigte van benoemde waterbronne nie. Gesprekke met die Departement van Waterwese is reeds gevoer en word opgevolg. Geen heffings en belastings kan betaal word op privaat ontwikkelde water alvorens alle opvangsgebiedbestuursprogramme, soos uiteengesit in die wet, in plek is nie. Rekenings wat reeds uitgestuur is, moet teruggetrek word. Hiermee stem Agri SA saam.
Ten slotte het TLU-SA (Noordstreek) ‘n duidelike beleid ten opsigte van die hantering en prosedures van grondeise en sy lede is volledig ingelig.
Mnr Williams van Agri SA het aangedui dat sy omgewing nog nie praktiese ervaring het van grondeise nie en wou hy homself nie daaroor uitspreek nie.
Opsommend kan gesê word dat geen ooreenkoms tot samewerking ten opsigte van bogenoemde raakpunte aangegaan is nie.
Dit is in die vooruitsig gestel dat ‘n herontmoeting wel sal plaasvind en dat die sake in meer diepte bespreek sal word. Geen datum was bepaal nie.