General

Twee verdagtes vas na aanranding op inwoner

THABAZIMBI – Twee beweerde verdagtes is gearresteer na die aanranding op mnr Fanie van Emmenis (47). Die klaer het Dinsdagoggend, 01:00, die twee jong verdagtes ‘n geleentheid huistoe gegee nadat hulle by Kransberg Hotel gekuier het. Die twee verdagtes is onderskeidelik 19- en 20 jaar en inwoners van Thabazimbi. Die klaer is versoek om hulle in 13de Laan af te laai.
Na bewering is van Emmenis van agter oorrompel waarna hy geskop, geslaan en in die veld agter gelaat is. Die twee verdagtes het toe met die voertuig, ‘n wynrooi VW Golf, gevlug.
Na wat berig word, het hulle die voertuig later die oggend by die ou stadsraad kwekery geparkeer en aan die brand gesteek. Die waarde van die skade op die voertuig beloop R35 000. Die klaer kon daarin slaag om later die saak by die polisie aan te meld en die verdagtes se name te verstrek. Van Emmenis het bors- en ribbe beserings opgedoen.
Herbert is werksaam as ‘n kelner en Heystek werk op Amandelbult. ‘n Saak van roof van voertuig en opsetlike saakbeskadiging is teen die verdagtes geopen en word ondersoek.