Heelwat werk lê voor vir Thaba Rugby
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Thabazimbi rugbyklub se rugbyseisoen het Vrydag afgeskop toe hulle in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Rustenburg polisie gespeel het.
Dit is nog vroeg in die seisoen en die balhantering het maar gelol. Fiksheid was die ander probleem. Die tweedespan het vir 58 minute van die wedstryd voorgeloop en in die doodsnikke van die wedstryd verloor toe Bobbies na ‘n hanteer fout van Thaba agter hulle pale gaan kuier het.
Thaba het die wedstryd met 17 punte teen 12 verloor. Daar was egter oomblikke wat baie belowend gelyk het vir Thaba se rugbyseisoen vorentoe.
Die eerstespan het met tye, veral in die eerste helfte, briljant hanteer en na ‘n span gelyk wat hierdie jaar weer lus is vir goeie rugby. Die fiksheid het in die tweede helfte ook maar bietjie gelol en die dissipline het toe ook platgeval waarna ‘n maklike oorwinnig verander het in harde werk. Thaba het die wedstryd met 13 punte teen nul gewen, maar dit vir hulself moeilik gemaak met ongedissiplineerde spel.
Moenie die skeidsregter kwaad maak nie, want dit kan jou wedstryde kos. Hopelik het Thaba hier ‘n les geleer.
Puntemakers was Nico Mynhard en Kobus Baard met ‘n drie elk en een strafdoel deur James Engelbrecht.
Hierdie Saterdag speel Thaba en Swartklip albei teen spanne van Brits op Thaba se tuisveld, toeskouers is welkom. Ondersteun ons rugby in Thaba en kom waardeer die goeie talent wat ons dorp bied. Speeltye is as volg:
14:00 Swartklip teen Brits O/20, 15:00 Thaba teen Brits 3, 16:00 Swartklip teen Brits 2 en 17:00 Thaba teen Brits 1.
Volgende Saterdag speel Pretoria, Centurion en Roodepoort hier plaaslik.