General

Anneli en Transoranje by Expo

‘n Onvergeetlike ervaring. Dis hoe die produksie, Halleluja vir Dowes, beskryf word deur almal wat dit al beleef het. Diè unieke musiekproduksie is in samewerking met die immergewilde Anneli van Rooyen en leerders van die Transoranje Skool vir Dowes en word op Sondag 1 Mei 2005 om 17:00 by die Thabazimbi Wildsfees aangebied.
Halleluja vir Dowes is ‘n unieke musiekproduksie en ‘n emosionele ervaring soos min! Algehele wenner van die gesogde ATKV Lier Musiek-toekenning (2004), Anneli van Rooyen, is hier op haar heel beste te sien saam met leerlinge van die Transoranje Skool vir Dowes in ‘n produksie wat spesiaal saamgestel is om ‘n besonderse ervaring vir beide horende en dowe gehore te wees. Treffers van Dana Winner en Josh Groban word ook aangebied. Die beskrywende en gevoelvolle lirieke word hierin meesterlik met gebaretaal geïnterpreteer wat enigeen sprakeloos sal laat en emosioneel sal aanraak. Die program sluit ook komiese uitbeeldings en mimiek van Anneli se liedjies in om ‘n variasie van aanbieding te verseker.
Vir Anneli is dit ‘n eerste om ‘n musiekproduksie saam met dowe leerders aan te bied, maar dit is reeds duidelik aan die sukses van 8 afgelope vertonings dat hierdie unieke kombinasie ‘n besliste wenner is. “Dit is deur en deur ‘n unieke musiekproduksie en wat die kinders daarmee doen is wonderlik” sê Anneli. “Dit is eenvoudig, maar dit raak ‘n mens waar jy gedink het dit sal nie. Dit knoop jou hart en gees op ‘n manier wat ‘n mens nooit verwag het nie”.
Diè produksie het groot aanklank by Suid-Afrikaanse gehore gevind en na 21 suksesvolle optredes en op grond van uitstaande gehalte, is die groep deur die Chase Foundation in Argentinië uitgenooi om in Junie vanjaar in diè land op te tree. ‘n Konserttoer van twee weke word beplan wat tien vertonings sal insluit. Die Chase Foundation verteenwoordig ‘n internasionale uitruilprogram vir gehoorgestremdes en is in die vroeë 1990’s op die been gebring.

Thabazimbi Expo Home Page