General

Maroelamalligheid slaat Thabazimbi

THABAZIMBI – Maroelamalligheid, die lawwe konsert van vyf van ons top Afrikaanse kunstenaars, het Thabazimbi Dinsdagaand in sy volle felheid getref.
Al die kunstenaars is ou bekendes in Thabazimbi en hierdie nuwe aanslag het groot byval by die plaaslike gehoor gevind.
Een van die grootste verrassings was Thys die Bosveld klong, wat saam met Gerrie Pretorius, Pavarotti en vriende op hulle plek gesit het. Om nie te praat van die vier tenore, in aandpak en al, wat na al die aand se vermaak die verhoog saam met die minlike Juanita du Plessis, die enigste roos tussen al die dorings, gedeel het nie. Met haar ou treffer, Ska-Rumba het die klomp die hele gehoor op hulle voete aan die einde van die aand gehad.
Dit is nie sommer dat jy hierdie vyf top kunstenaars, en hier praat ons nou van Juanita du Plessis, Thys die Bosveld klong, Guillaume, Gerrie Pretorius en Zak van Niekerk, saam op die verhoog sien nie. Hierdie is beslis ‘n onbetwisbare wenkombinasie en gaan hulle op hul toer nog baie gehore betower.
Soms is rolle geruil, maar dit het geen afbreuk gedoen aan die ware kunstenaar onder die bedekking nie. So het Peter Pan niemand geflous nie en was Guillaume met sy los lyf duidelik sigbaar onder al die vermomming. So ook Gerrie in Thys se klere, en dit nogal sonder ‘n gordel om die broek bo te hou.
Anton Goosen sou trots gewees het op hierdie kunstenaars wat gewys het dat hulle nie noodwendig van “back tracks” afhanklik is om musiek te maak nie. Met Zak op die bekfluitjie, Gerrie op die tromme, Juanita en Thys op die kitare en Guillaume, soms bygestaan deur Zak, op die klawerbord, het hulle gewys dat hulle ‘n boereorkes van formaat is wat vir geen klipwerf of enige werf hoef terug te staan nie.
Die aand se vertoning is deur ‘n welkome nuweling, Karlien, ingelui. Karlien, nuut uit die Kaap, is ‘n verfrissende toevoeging tot die lys van Afrikaanse kunstenaars van wie daar in die toekoms nog baie gehoor gaan word.