General

Gewilde spoorsnyer verongeluk

POTGIETERSRUS – ‘n Baie bekende en gewilde spoorsnyer van die Limpopo Provinsie, Roelf Schoeman (45), het verlede Donderdagaand, 3 Februarie, verongeluk. Schoeman, wat die eienaar van Strike Force Sekuriteit & Alarms in Potgietersrus was, was saam met sy vriend en medewerker, Ben Engelbrecht (44), ongeveer 22:45 oppad na ‘n kaping voorval in die omgewing.
Net buite Pietersburg het ‘n vragmotor ‘n U-draai oor die pad gemaak en Schoeman en Engelbrecht se Isuzu Frontier het met die vragmotor gebots. Na wat berig word is Schoeman, wat bestuur het en ook die eienaar van die voertuig was, ongeveer 04:30 die volgende oggend, om en by 45 minute nadat hy uit die teater gestoot is, aan hoofbeserings beswyk. Engelbrecht is Vrydagoggend ontslaan.
Schoeman en Engelbrecht is gereeld deur die SAPD gebruik in hul stryd teen misdaad. Hulle was alom bekend vir hul verstommende vermoë om verdagtes wat te voet van ‘n misdaadtoneel gevlug het, op te spoor. Schoeman het sy ondervinding in die Angolese bosoorlog opgedoen. Dit was egter nadat hy die bevel van die Reaksiemag van Potgietersrus Kommando in 1995 oorgeneem het, dat spoorsny op misdaadtonele behoorlik posgevat het. Schoeman se vader Jan Schoeman, is in Desember 1996 tydens ‘n plaasaanval op Vaalwater vermoor en sy begeerte om misdadigers te stuit het verskerp.
Op 14 Maart ontvang Schoeman ‘n oproep van Kaptein Sakkie Louwrens, Thabazimbi speurhoof, om hulle by te staan met ‘n plaasaanval by die plaas Welgewaagd in die Dwaalboom omgewing teen die Botswana grens. Thabazimbi speurtak het met Schoeman se hulp die spore tot ongeveer 20 kilometer oor die Botswana grens gevolg. Hulle het deurnag gewerk en ‘n verdagte is die volgende oggend aangekeer.
Kaptein Louwrens sê dat Schoeman reeds vanaf 1995 die Thabazimbi SAPD ondersteun het met ondersoeke. Die oorledene het sy eie voertuie gebruik en alle uitgawes op homself geneem en is nooit deur die staat of enige instansie vergoed vir sy hulp nie.
“Ons verloor ‘n man wat met passie en geesdrif sy taak verrig het en hy sal nog vir lank ‘n leemte in die SAPD se midde laat”, het kaptein Louwrens gesê.
Schoeman laat sy vrou en driejarige dogter agter. Sy begrafnis het Woensdag, 9 Februarie 2005, vanuit die NG Kerk Suid in Potgietersrus, plaasgevind.