Gesteelde olifanttande teruggevind
KOEDOESKOP – Die gesteelde olifanttande van “Kwena Moloto Taksidermy and Safaris”, wat vroeër die maand gesteel is, is na knap speurwerk teruggevind. Die inbraak het die naweek van 4 Februarie plaasgevind.
Inligting is opgevolg en Inspekteurs du Bruyn en Madjadibodoe en konstabels Chauke en Ponie van die plaaslike speurtak, het die verdagtes verlede Vrydag, 11 Februarie, in die Winterveld omgewing vasgetrek.
Na wat berig word is twee Panasonic faksmasjiene, twee zebra en luiperd velle en vier olifanttande gesteel. Die waarde van die gesteelde goedere beloop R216 000. Die speurders het een van die faksmasjiene en die vier oliffanttande met ‘n gesamentlike waarde van R173 000 teruggevind.
Twee verdagtes is gearresteer op aanklag van huisbraak en diefstal en het reeds Maandag in die hof verskyn. Beide verdagtes het weer gister in die hof verskyn en borg van R10 000 elk is aan hulle toegestaan. Een van die verdagtes was werksaam by “Kwena Moloto Taksidermy and Safaris”.