General

Bloedskenkers word vereer

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se jaarlikse medaljeplegtigheid om bloedskenkers te vereer, vind 11 Maart, om 18:30 by die Rustenburgse Gholfklub plaas.
Skenkers ontvang tydens hierdie geleentheid medaljes vir klub- 25, 50, 100, 150, 200 en 250 eenhede geskenk.
Die SANBD besoek Thabazimbi maandeliks by die ou bioskoopsaal waar skenkers bloed skenk. Die volgende besoeke is as volg: 2 Maart, 6 April, 4 Mei, 1 Junie, 29 Junie, 27 Julie, 24 Augustus, 21 September, 19 Oktober, 16 November en 14 Desember. Die tye sal altyd dieselfde bly en geskied vanaf 16:00 tot 18:00.
Om ‘n veilige bloedskenker te word, beteken dat jy jou daartoe verbind om betrokke te raak by ‘n belangrike gemeenskapsdiens wat die lewenskwaliteit vir baie verbeter. Die SANBD, span verskeie metodes in om die gesondheid en welstand van nie net pasiënte wat bloed ontvang nie, maar ook bloedskenkers te beskerm. Hierdie metodes verseker dat hulle bloed en bloedprodukte van uitstekende gehalte en van die veiligste ter wêreld is.
Om ‘n veilige skenker te word moet jy ‘n minimum van 50 kilogram weeg, tussen die ouderdom van 16 en 65 jaar wees, goeie gesondheid geniet, ‘n veilige seksuele lewenstyl handhaaf en jou bloed as veilig beskou word vir oortapping aan ‘n pasiënt.
Bloedskenk is ‘n eenvoudige en veilige proses wat ongeveer 30 minute neem. Alle naalde is nuut en steriel. Hulle word slegs een maal gebruik en daarna weggegooi. Daar sal tydens ‘n bloedskenkproses as volg te werk gegaan word: jy sal gevra word om ‘n skenkers registrasievorm te voltooi met al jou persoonlike inligting wat gesondheid en sosiale gedrag insluit, jou ystervlak, bloeddruk en polsslag sal getoets en nagegaan word, jy sal 480 milliliter skenk wat jou liggaam vinnig sal vervang en jy sal verversings ontvang wat ook sal help om verlore vloeistof te vervang.
Voordat jy skenk is dit belangrik om ‘n gebalanseerde maaltyd te eet en jou vloeistof inname te verhoog. Indien moontlik moet jy medikasie wat aspirien bevat vir 72 uur voordat jy skenk, vermy. Maak ‘n nota van die naam en dosis van enige medikasie wat jy tans neem en stel die personeel by die kliniek in kennis. Jy moet ook vir ten minste 30 minute nadat jy geskenk het, nie rook nie en vir twee ure nie swaar goed optel met die arm waarmee jy geskenk het nie.
Die meeste oortappings word gegee aan vroue wat bloeding tydens swangerskap ervaar, kinders met ernstige anemie, ongelukslagoffers en Chirurgiese- en kankerpasiënte.
Veilige bloed red lewens. Daar sal daagliks duisende mense sterf as daar nie andere is wat hul bloed skenk nie. Deur bloed te skenk, gee jy iets vir ‘n pasiënt wat geld nie kan koop en wetenskap nie kan skep nie.