Sport

Vierwielagentskap met ervare jaer op Thaba

THABAZIMBI – ‘n Veel groter keuse van vierwielfietse bestaan nou in Thabazimbi met die opening van Quad Fun, ‘n volwaardige Polaris agentskap.
Kobus Oberholzer, bekend as Kiri, het sy laerskool jare hier in Thabazimbi begin. Hy is nou terug as mede eienaar saam met sy ouers, Mauritz en Lynette van Quad Fun. Mauritz en Lynette beheer die tak Quad House in Brits terwyl die verantwoordelikheid van Thabazimbi tak vierkantig op Kobus se skouers rus.
Kiri toon al van ‘n jong ouderdom belangstelling in motorfietse en ding al vir etlike jare aan die quadbike kompetisies mee.
In 2002 het Kiri aan sy eerste Quadbike kompetisie deelgeneem. Desember 2003 behaal hy ‘n derde plek in die Noord Wes provinsiale streekkompetisie.
Polaris, ‘n bekende quadbike vervaardiger, het Kiri na die kompetisie genader om vir hulle fabriekspan te ry.
Kiri se Quadbike aanhangers wou toe ook almal so ‘n fiets hê. Die belangstelling was so groot dat Quad House op Brits geopen het en binne ‘n paar maande nou na Thabazimbi uitgebrei het, as Quad Fun.
Quad Fun wat op die BP 1 Stop perseel open, sal ‘n spesialis Polaris handelaar en werkswinkel wees.
Die Polaris quadbikes is meer as net renfietse. Hulle kan vir die boer en jagter se vereistes aangepas word. Die fiets is baie lig op brandstof.
Kiri wat die naweek van 3 tot 5 Februarie aan die Nasionale kampioenskappe in Swaziland gaan deelneem, open sy winkel net na die 400 km per dag, moordende kompetisie.
Kiri het ook onlangs tweede plekke in Limpopo en Noordwes provinsie kampioenskappe behaal. Siende dat hy so aktief by die hoogs kompeterende en opwindende sport betrokke is, is sy kennis van die motorfietse eerstehands.