General

Valentynsete met wynveiling

THABAZIMBI – Die AP Kerk en Bosveld Akademie, bied saam ‘n heerlike romantiese valentynsete aan op Vrydag 11 Februarie. Ryan Walt, bekende panfluitspeler, sal rustige musiek verskaf, tydens die viergangmaaltyd.
Geen romantiese aand is volmaak sonder blomme nie. Manne, die organiseerders het aan alles gedink, neem dus ‘n ekstra geldjie vir blomme en tafelwyn saam.
Tydens die ete, sal daar ook ‘n wynveiling aangebied word. Elf verskillende wynkelders uit die Robertson area, bekend vir puik gehalte, se wyne sal op die veilingtafel pryk. Dink maar aan Springfield, de Wetshof, Robertson, Zandvliet, Roodezandt en Nuy. Daar is selfs Springfield 1999 Cabernet beskikbaar. Indien jy so ‘n bottel rooiwyn in ‘n restaurant bestel, sal jy ‘n goeie R600 of meer daarvoor moet opdok.
Baie skaars versamel items soos die 30 jaar oue KWV Muskadel, enige wynversamelaar se droom, maak ook deel van die veiling uit.
Die wyn, meer as R12000 se voorraad, sluit droë wit en rooi, wit en rooi muskadel, port en selfs brandewyn in.
Wil jy die ete sonder kinders geniet? ‘n Kinderkamer met video’s en ‘n springkasteel, onder volwasse toesig word verskaf. Die kinders geniet ook ‘n gratis ete in die kinderkamer.
Bessie Snyman en Trinkie Goosen staan aan die hoof van die spyskaart. Roer dus jul litte en kry nou, teen slegs R100 per persoon, die mees romantiese aand van jou lewe. Kaartjies is beskikbaar by Thabazimbi Glas. Die funksie word in die AP Kerksaal aangebied en skop om 18:30 af. Die drag is semi-formeel.