Motiveringspreker besoek Thabazimbi
THABAZIMBI – Die motiveringspreker, Janetta Kannenberg van Pretoria, besoek die NG Gemeente, Woensdag, 23 Februarie om 18:30. Min mense wat Kannenberg ontmoet, besef met die eerste oogopslag sy het net een persent sig. Haar bewegings is seker, sy kyk jou in die oë terwyl julle praat en kom sover moontlik sonder ‘n wit kierie klaar.
Benewens ‘n motiveringspreker, is Kannenberg ook ‘n digter en entrepreneur. Sy spog met toekennings soos die “New Visions Ms Woman of the year 2002” en die Kommunika Toastmasters-klub Kommunikator van 2003.
Haar eerste digbundeltjie, “Husse met lang gedagtes”, het tot ‘n hele huskultuur gelei. ‘n Kind wou weet hoe husse met lang ore nou eintlik lyk, en Kannenberg het ‘n sagte speelgoedhus gepraktiseer. Vandag is daar ‘n verskeidenheid husse, almal sonder oë.
Die babahus het kort oortjies en die stout hus se ore kan afgehaal of weer aangeplak word, natuurlik net as hy hom goed gedra.
“Ek bemark nie ‘n produk nie, maar ‘n hartsgesindheid. Husse het nie veroordeelde oë of monde nie. Hulle staan reg om te luister en lap nooit hartsgeheime uit nie” het Kannenberg onlangs gesê in ‘n artikel deur Rooi Rose.
Alle Thabazimbiërs uit alle gemeentes word hartlik uitgenooi na hierdie geleentheid. Kaartjies beloop R20 elk en is beskikbaar by die kerkkantoor of by Karen Azar by Laerskool Thabazimbie.