Rekening van duisende laat bejaarde sonder water
THABAZIMBI – ‘n Bejaarde man is reeds byna twee weke sonder water nadat die munisipaliteit na bewering sy watertoevoer in Regorogile afgesny het. Dit volg nadat die 77 jarige Stenson Singini ‘n munisipale rekening van R12 669.67 vir Desember ontvang het en slegs R100 betaal het soos wat hy elke maand doen.
Singini, wat 40 jaar vir Iscor gewerk het en in 1995 op pensioen gegaan het, betaal getrou maandeliks sy R100 waterheffing. Na wat verneem word, het sy kinders verlede week en Dinsdag ‘n klagte by die munisipaliteit ingedien oor die onredelike hoë rekening en dat hul vader sonder water is.
Singini sê die munisipaliteit was nog nie met hom in verbinding nie, en sy watertoevoer is steeds afgesny. Singini, wat reeds moeisaam oor die weg kom, moet daagliks vir hom emmers water aandra.
Singini woon alleen en sien selde sy vrou en kinders wat elders werk en is op homself aangewese.