ORGANISASIE VIR WILDBOERE EN BELANGHEBBENDES
Noordelike Wildboer Organisasie (vroeër bekend as die Transvaal Wildvereniging) is die amptelike mondstuk van wildboere wie se wildplase in Gauteng, Mpumalanga, Noord-Wes en Limpopo geleë is en is die enigste wildboerorganisaie wat ‘n diens lewer aan die wilboere in die bedryf.
Die organisasie se visie is as volg:
Streef daarna om as ‘n sterk, nie winsbejagde, regerings gesteunde organisasie al ons lede, ongeag ras of taal te bemagtig om sodoende Suid-Afrika se unieke wildlewe en ekotoerisme wêreld bekend te maak en as ‘n inkomste bron vir die nageslag te bewaar.
Geaffillieer by die Suid-Afrikaanse Wild Organisasie (SAWO), die Nasionale Organisasie van wildboere. Die organisasie beding voordele vir wildboere oor ‘n wye veld en voer op ‘n gereelde basis samesprekings met provinsiale, en in samewerking met SAWO ook Nasionale, owerhede.
Van die suksesse wat hulle reeds behaal het, sluit die volgende in:
Die magtiging vir die vervoer van vlakvarkvleis, bedinging van ‘n spesiale kategorie vir wildboere met betrekking tot die vuurwapenwet, onderhandel met Natuurbewaring rondom toegewings ten opsigte vir die vervoer van lewendige wild, instandhouding van ‘n webbladsy, die aanbied van ‘n jaarlikse wildveiling waartydens lede die geleentheid gebied word om wild te verkoop, die aanbied van verskeie opleidingskursusse soos jaggidse, wildvleisverwerking, vellooiery, wildplaasbestuur, beroepsjag en vleisondersoekers. Hierdie is slegs ‘n paar van die voordele wat dit vir u die moeite werd maak om deel te word van die span.
Seminare word gereeld deur aangebied waartydens daar ‘n forum geskep kan word om wildboere op hoogte te hou van die nuutste verwikkelinge rakende aspekte in die wildbedryf. Hierdeur bevorder hulle dienste in die wildbedryf onder lede en belanghebbendes. ‘n Nuusbrief word twee-maandeliks uitgestuur aan die lede, hierdie nuusbrief bevat eksklusiewe inligting wat vir die wildboer tot voordeel sal wees.
Die eerste seminaar en wilddinee vind ook eersdaags plaas (11 Maart 2005) en dit val saam met die organisasie se algemene jaarvergadering. Tydens die vergadering sal die organisasie se nuwe bestuur aangewys word.
Die jaarlikse dinee waar almal na uitsien is die Gala-aand waartydens erkenning gegee en toekennings aan die volgende gemaak word: Wildboer van die jaar, Wildstudiegroep van die jaar, asook ‘n toekenning aan die plaas waar die grootste trofee gejag is gedurende die jaar. ‘n Geleentheid wat u nie mag misloop nie.
Geen organisasie kan suksesvol funksioneer sonder die daadwerklike meelewing en ondersteuning van aktiewe lede nie, dus nooi hulle u om hulle te kontak om u meer te vertel.
Enige belangstellendes word versoek om vroegtydig te bespreek om teleurstelling te voorkom. Kontakbesonderhede by die kantoor is (012) 335 6994 of Ida Smalberger by 082 578 1691.