Maroelamalligheid op Thaba met top kunstenaars
THABAZIMBI – Die mense van omgewing kan hulle regmaak vir vrolike konsertgenieting wanneer van die land se gewildste sterre hul musikale veelsydigheid kombineer.
Almal ken die stemme en die treffers: Ska-Rumba, Jaloersbokkie, Da-Idi, Annemarie en Lekkerkry. Nou kan Juanita, Thys, Gerrie, Guillaume en Zak se bewonderaars ook die lotjie se ander musikale vaardighede ervaar. Zak blaas die bekfluit, Thys slaat die tromme, Juanita en Gerrie tokkel die kitaar en Guillaume toor met die klawers. Die superplatinaroos en die goue musiekdorings deel nie bloot dieselfde verhoog nie: hulle sing en speel saam en vul mekaar wedersyds aan. Die geleentheid om hierdie uitstekende sterre saam op die verhoog op Thabazimbi te sien gaan nie weer gou voorkom nie.
Die groep se toer deur Gauteng, Limpopo en Mpumalanga word vanaand in Pretoria afgeskop en op Woensdag 8 Februarie tree hulle in Thabazimbi op. Die volgende aand is hulle in Ellisras, op hulle pad na Pietersburg en Mpumalanga.
Die optrede begin om 17:00 op die Thabazimbi skouterrein en toegang is R80 per persoon. Voorskoolse kinders is gratis. Die vertoning word in die Huisgenoot se markeetent aangebied en daar gaan sitplek vir ‘n 1000 mense wees. U is welkom om u eie piekniekmandjie te pak en daar word ook onderhandel om ‘n biertent en verversingstalletjie op die terrein te hê.
Kaartjies is beskikbaar by Marelize by Verdrag (083 539 5687), Yvonne Klopper op Koedoeskop (082 388 5107), Marieta Raath by Talisman (082 920 1225), Robbie (083 532 9031) en op Thabazimbi by Supa Quick en die Cash Loans langs die Koffiewinkel.
In 2001 het Juanita du Plessis twee SABC2 geraasmusiekpryse ontvang: Die Gewildste liedjie en die Beste Verkope van die Jaar – vir haar reusetreffer Ska-Rumba. Sy het ook onlangs ‘n suksesvolle gospelalbum, Altyd Daar, uitgereik. Met die albumverkope van oor die 400 000 eenhede, een goue, twee platinum- en twee dubbelplatinumtoekennings en uitklopvertonings is sy op die oomblik die gewildste Afrikaanse sangeres in die Land.
Thys, die Bosveldklong, ook bekend as mede-aanbieder van SABC2 se humorprogram Maak ‘n Las, is een van die land se bedrywigste musikale humoriste en met sewe albums en totale verkope van oor die 250 000 eenhede die gewildste en vaardigste in die genre. Sy jongste trefferalbum Boeretroos is weer gepak met klankkwinkslae.
Guillaume is Suid-Afrika se modeboeksanger. Vir sy derduisende bewonderaars is hy die loslitlat wat met sy stem, lyf en energie bekoor. Guillaume het een van die Top 5-treffers van 2002 opgelewer – Da-Idi: Sy opvolgalbum Swart of Wit met die reusetreffer, Dige-Ding-Dong, het die mense ook weer laat wikkel. Hy stel sy nuwe treffer album “Shut-up en Partie” tydens die toer vry.
Mosselbaai se uitvoerproduk, Gerrie Pretorius, ry die golf op die branders van sy kenmerkende minnesang-aanslag. Sy debuutalbum Met Liefde met die treffers Annemarie, Wie ry saam?, Grootste Wens en Jy kan het hom in ‘n kits gewildheid besorg. Sy aantreklikheid, sjarme, humor en ywer is die stempel op sy gewildheid. Dit het hom weer goueplaatstatus besorg vir sy opvolgalbum Hei Jy met die treffers Heidi, Was ek maar ‘n Digter en ‘n polsende stamphermengsel van Blonde Matroos en Hei, gaan jy weer.
Springbok se humorlat Zak van Niekerk vermaak met stem, bekfluit en kitaar. Dit is ‘n driekuns wat min ander kunstenaars hom kan nadoen. Met sy albums Lekkerkry (wat goue status bereik het!) en Byt My en die treffer Ek sê bokkie het hom stewig gevestig as een van die gewildste kunstenaars by musiekfeeste. Met ‘n kombinasie van storievertel, bekfluitjiebehendigheid en vrolike sang bied Zak die volledige vermaakpakket.
Saam bied die talentvolle en veelsydige kunstenaars ‘n sterbelaaide vertoning, propvol treffers en vrolike samesyn: vermaak vir die hele gesin. Somer was nog nooit so lekker nie! Dis warm, witwarm, malwarm! Dit is ‘n Maroelamalligheid!