ATKV Herfsskool vir skrywers
Die jaarlikse Herfsskool vir skrywers word deur die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit aangebied en bekendes uit die skryfwêreld sal as aanbieders optree. Dit word aangebied vanaf 14 tot 18 Maart 2005 te ATKV-Buffelspoort en die koste beloop R1500 (verblyf ingesluit).
Herfsskoolgangers kan vanjaar uit vier bene kies tydens die Herfsskool: prosa, poësie, kinderliteratuur en fotojoernalistiek. Hierdie bene loop gelyktydig en die vier verskillende bene van die Herfsskool word in parallelle sessies aangebied, hoewel die hooflesings van skrywers of uitgewers vir al die kursusgangers gelyktydig aangebied word.
Vir vyf dae word daar intensief aan jou eie skryfwerk geskaaf deur skrywers, uitgewers, groepleiers en werkswinkelaanbieders. Aan die einde van die Herfsskool word ‘n bywoningsertifikaat uitgereik.
Om tot die Herfsskool toegelaat te word, word daar ‘n skryfstuk gevra wat jy saam met jou inskrywing voor die sluitingsdatum, 4 Maart 2005, moet inlewer met ‘n deposito van R500 (nie terugbetaalbaar nie). Hierdie skryfstuk van jou word deur die loop van die week in kleingroepverband met jou bespreek.
Om vir die prosa afdeling in te skryf, moet jy ‘n kortverhaal van nie meer as 10 bladsye vooraf instuur. Vir die poësie been moet jy ‘n gedig vooraf instuur en vir die kinderliteratuur moet jy ‘n kinder- of jeugverhaal van nie meer as 10 bladsye vooraf instuur.
Vir die fotojoernalistiek, moet ‘n kamera en driepoot saamgebring word. Die kamera moet tradisioneel (film) of digitaal wees. Filmkameras moet verkieslik enkellensrefleks (SLR) wees, en ‘n wyehoek- en medium-telefotolens sal beslis aanwinste wees. Digitale kameras moet foto’s in JPEG-formaat kan neem. Kleurnegatiewe sal teen kursusgangers se koste by ‘n plaaslike laboratorium ontwikkel word en daarna gratis geskandeer word. Elementêre praktiese oefeninge word op digitale kameras gedoen.
Vir verdere inligting oor die Herfsskool kontak die ATKV-Skryfskool by (018) 299 1783 of e-pos na assjcjva@puknet.ac.za.