General

Veediefstal knou veebedryf

Veediefstal is steeds een van die faktore wat die grootste negatiewe bydrae tot die ekonomiese lewensvatbaarheid van ‘n veeboerderyonderneming maak, sê Lardus van Zyl, voorsitter van die Noordwes Rooivleisprodusente-Organisasie (NWRPO) na afloop van sy vergadering met die Noordwes Veediefstalforum.
Van Zyl het sy dank teenoor die Veediefstaleenhede uitgespreek vir die goeie samewerking wat oor die afgelope jaar tussen die NWRPO en die Veediefstaleenhede gevestig is. Verskeie lang uitgerekte sake is deur hierdie goeie werksverhouding aangespreek en opgelos.  Die vergelykende statistiek met ander provinsies lyk egter steeds nie goed nie, en daarom sal beide Veediefstaleenhede en produsente nie op hulle louere kan rus nie, aldus van Zyl.  Dit is veral belangrik dat alle veediefstalle, hoe gering ookal, aangemeld moet word sodat betroubare statistiek opgebou kan word om die effek van veediefstal op die ekonomie van veeboerderyondernemings en die land se ekonomie uitgewys kan word.
Kaptein de Kock, koördineerder van die Veediefstaleenheid, het op verskeie aspekte gewys wat die Veediefstaleenhede kan help om meer suksesvol te funksioneer.  Die belangrikste hiervan is dat veebrand- en tatoeeërmerke soos deur die Wet op Veebrandmerke voorgeskryf, baie nougeset op diere aangebring moet word.  Vermelding is gemaak van 75 veediefstalsake wat oor ‘n gegewe tydperk aangemeld is en waarvan veebrandmerke slegs in 6 gevalle op diere gevind kon word.  Skuldigbevindings in hierdie gevalle is onmoontlik en die gesteelde vee word dan aan die veediewe terug gegee.  Ander aspekte wat volgens kaptein de Kock ondersoeke bemoeilik is dat die nodige dokumentasie tydens eienaarverwisseling nie in plek is nie, en dat sake teruggetrek word voordat dit deurgevoer en afgehandel is.
Van Zyl sê dat die afwesigheid en swak toestand van heinings langs paaie, asook grensheinings en die onnodige gesloer met die afhandeling van die Skutwet, groot bydraende faktore tot die probleem met die bekamping van veediefstal is.  Hierdie aangeleenthede word tans met die Provinsiale- en Nasionale Regerings aangespreek.