Pendoringreklame-wedstryd worstel
Is Afrikaanse webwerwe swak? Of, was goeie webwerwe net nie ingeskryf nie? Dit is die vraag waarmee die organiseerders van die Pendoringreklame-wedstryd worstel.
Die afgelope twee jaar is geen Pendoring toegeken vir webwerwe wat ingeskryf het vir die wedstryd nie weens die beoordelaars se gevoel dat die standaard nie hoog genoeg was nie.
Pendoring glo dat dit hoog tyd is dat Afrikaans nou digitaal relevant word. In die lig hiervan word ‘n gratis slypskool, wat op webwerwe gaan fokus, op Saterdag, 29 Januarie, deur die veelbekroonde Roelof van Wyk, vennoot en kunshoof van Trigger, aangebied.
Die slypskool sal die volgende aspekte aanspreek: Algemene oorsig van die Internet, waar Suid-Afrika tans staan en waarheen hulle wil gaan, asook ‘n plan van aksie. Van Wyk, wat sy graad in argitektuur met lof by Tuks geslaag het, het in 1997 sy eie digitale “garage shop” geopen.
Sederdien het sy onderneming, wat spesialiseer in digitale kommunikasie en beskou word as een van die top-ondernemings in dié veld, al talle Loeries, Azagais en Cannes Lions gewen. Verlede jaar is hulle ook bekroon met ‘n ‘Grand Prix’ by die Loeries.
By die slypskool sal ook gekyk word na die beste webwerwe van ander lande soos Indië, Brasilië en Nederland om visueel te kan sien waar Suid Afrika tekort skiet.
Almal in die reklame- en digitale wêreld (studente ingesluit) is welkom om die geleentheid by te woon. Dit begin om 10:00 en vind plaas in die Konferensiekamer, ATKV-gebou, hoek van Dover en Surreystraat, Ferndale, Randburg.
Hoewel daar geen toegangsfooi is nie, moet belangstellendes asseblief bespreek by Emmie (011) 678 6266 of Nan (011) 447 8505.