General

Oud Thabazimbiër presteer

Northam – Oud leerling van Hoërskool Frikkie Meyer, Esbé Miller, het haar B.Comm (Hons) (Bedryfsielkunde) (Organisasionele Ontwikkeling) graad aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Na haar sekondêre opleiding wat sy voltooi het by Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, waar sy ook hoofmeisie van haar skool was, het sy gaan studeer aan die Rand Afrikaanse Universiteit, waar sy haar B.Comm (Bedryfsielkunde) graad einde 2001 verwerf het. Op universiteit het sy haarself goed bekwaam en vanaf haar tweede jaar op die Huiskomitee van haar koshuis, Kruinsig, in verskeie portefeuljes gedien. Sy het na universiteit haar by Anglo Platinum gevestig as “H.R Graduate” by die maatskappy se Union Section Besigheidseenheid. Hier het sy ook vinnig gevorder en is begin 2003 aangestel as Employment Equity Officer by Union Section. Sy het verskeie mylpale in hierdie veld bereik. Einde 2004 word Esbé weer bevorder na ‘n senior bestuursposisie as Employment Equity Co-ordinator by Union Sectioner. Sy is tans besig om haarself verder te bekwaam in haar vakgebied. Esbé is die oudste dogter van Hannes en Meisie Miller van Northam, en is gebore op 17 Maart 1980 te Rustenburg. Esbé het groot geword in die Northam-Swartklip omgewing, en het haar laerskooldae by Laerskool Platina voltooi waar sy ook hoofmeisie was.