General

MEC besoek HFM

THABAZIMBI – Die MEC van Publieke Werke, mnr Thabo Mafomadi, het Donderdag 13 Januarie saam met Thabazimbi se burgemeester, me Julia Madela, HFM besoek. Mnr Mafomadi het ook die ander hoërskole in die omgewing besoek.
Die doel van sy besoek was om vas te stel of alles by die skole glad verloop en of die skole enige proleme ondervind wat aandag moet geniet. Mafomadi het gesê hy neem onderwys baie ernstig op en was baie tevrede met HFM se matriek slaagsyfer van 100% vir 2004.
Mnr Deon Azar het gesê dat Hoërskool Frikkie Meyer die afgelope paar jaar baie gegroei het en dat daar huidiglik ‘n kind onderwyser verhouding van 1 – 35 in die senior fase en 1 – 39 in die junior fase is.
Azar het bygevoeg dat hulle tans 28 leerkragte vir ongeveer 1 000 leerlinge is. Hulle het al aansoek gedoen vir bykomende leerkragte, maar is deur die onderwysdepartement ingelig dat daar nie genoeg fondse beskikbaar is nie. Huidig help die myne in die omgewing en het vyf onderwysers aangestel vir die parallelmedium onderwys, en betaal dus maandeliks hul salarisse.
Azar het bygevoeg dat die aanvraag by HFM reeds groter as die beskikbaarheid is en daar reeds kinders weggewys moes word. Hy het weer versoek dat die departement dringend daaraan aandag moet gee. Mafomadi het verseker dat hulle dit met die departement sou opneem en dat hulle nou betrokke gaan wees met kinders se skoolloopbane, van Gr 1 tot Gr 12.