Inwoners kla oor munisipale dienste
THABAZIMBI – Inwoners van Korhaanstraat ondervind deurlopende probleme met water toevoer. Pype bars gedurig en dit laat die inwoners vir lang periodes sonder water. Wanneer die water toevoer, na ‘n lang gewag, wel herstel word, is dit bruin, ondrink- en onbruikbaar.
Die inwoners meen dit is ‘n gesondheidsrisiko aangesien baie van hulle in Desember met maagprobleme gesukkel het. Pype het reeds vyf keer gedurende Desember gebars. Die eerste geval was op 4 Desember wat gelei het tot ‘n 12uur lange water onderbreking. Na wat berig word was dit dieselfde dag wat ‘n Kersparty vir munisipale werkers aangebied was. Werkers moes tot 16:00 die middag wag vir pype om afgelewer te word voor herstelwerk begin kon word.
‘n Paar dae later het ‘n pyp hoër op in die straat gebars, wat weereens die inwoners vir ses ure sonder water gelaat het. Op 23 Desember, om 20:00 bars ‘n pyp weer en die water toevoer word afgesit. Herstelwerk is eers die volgende oggend om 5:00 begin. Inwoners het eers om 18:00 die middag weer water gehad.
Op Oukersaand bars ‘n pyp 20:00 reg voor Korhaanstraat nommer 8. Water het teen 22:00 nog in die pad af gestroom voordat die watertoevoer afgesny is. Teen 5:00 die volgende oggend is herstelwerk eers hervat en inwoners het eers weer Kersoggend water gehad.
Die probleme het steeds nie opgehou nie. 27 Desember bars ‘n pyp om 10:00 voor nommer 4 en laat inwoners sonder water tot 17:00 die middag. Inwoners van Korhaanstraat is ontstoke, want hul klagtes en pleidooie oor die water probleme, gate wat nie toegegooi word nie en pype wat oral rond lê val op dowe ore.
Volgens inwoners is verskeie klagtes al sedert 2003 by die Munisipaliteit ingedien oor die probleem, maar net leë beloftes het gevolg.
By navraag deur Die Kwêvoël is berig dat die probleem nie veroorsaak word deur verouderde pype nie, maar dat die drukking bo, vanaf tweedelaan, te hoog is en daartoe lei dat die pype sonder ophou bars. Na wat verneem word is dit al by ‘n vorige geleentheid onder die munisipaliteit se aandag gebring.